Wanneer Guillaume Bénoliel op die klavierstoeltjie sit en Rachmaninoff se “Italiaanse Polka” vir ’n komende konsert oefen, hang sy voete in die lug.

Die sesjarige Franse wonderkind Guillaume Bénoliel aan’t oefen in ’n kerk in Brunoy, Frankryk. Foto: REUTERS
Reuters
“Ek het al talentvolle mense in my loopbaan ontmoet, maar niemand soos hy nie,” sê dr. Serguei Kouznetsov, sy leermeester.
Die sesjarige Guillaume is in Augustus in ’n internasionale klavierkompetisie in Salzburg, Oostenryk, as beste jong musikant aangewys. Daarby het hy ’n spesiale prys gekry vir uitsonderlike jong talent.
Salzburg is die geboorteplek van Wolfgang Amadeus Mozart, wat twee-en-’n-half eeue gelede ook as wonderkind bekend geword het.
Guillaume was ’n jaar oud toe hy die eerste note op ’n klavier in sy ouerhuis suidoos van Parys, Frankryk, gespeel het. “Ek het hom op my skoot getel toe ek gespeel het,” vertel sy ma, Claire, ’n amateurmusikant. “Guillaume was baie aangetrokke tot die instrument. Ek het vir hom klein uitdagings begin stel – regterhand, linkerhand.”
Wanneer ek speel voel ek goed.
Toe hy drie was, het Claire vir hom “Vader Jakob” op die klavier gespeel, vertel sy pa, Dominique. “Hy het die wysie net daarna instinktief self gespeel.”
Op vierjarige ouderdom het hy sy eerste klavierles gehad. In Oktober verlede jaar het die pianis Eric Artz die vyfjarige Guillaume genooi om op ’n Halloween-konsert in Parys te speel, waar hy variasies op Harry Potter-temamusiek uitgevoer het.
“Ek het altyd klein komposisies in my kop,” sê die seuntjie.
Intussen het sy ouma hom ook aan die viool bekend gestel en hy kan reeds toonlere daarop speel.
Nes Mozart het Guillaume perfekte gehoor.
“Dis ’n gawe wat een uit elke 10 000 mense en skaars 20% van musikante het,” sê Dominique, wat self ’n amateurkitaarspeler is.
Mense met perfekte gehoor kan musieknote uitken sonder om eers ’n verwysingsnoot te moet hoor. Guillaume kon boonop musiek ontsyfer voordat hy kon lees.
Kouznetsov sê sy begrip van musiek en sy visie vir die werk wat hy uitvoer is reeds soos ’n tiener s’n. “Sy talent is dié van ’n klein Mozart.”
Tuis is musiek net ’n prettige ervaring wat hy met sy ouers deel. Saans hou hy vir hulle konsert in hul woonkamer. Sy ouers sê dit is nogal ’n avontuur, maar hulle probeer sy voete op die grond hou.
“Ons is nie hier om druk op hom te plaas nie. Ons wil net hê hy moet gelukkig wees.”
Guillaume wil eendag ’n ingenieur word – én ’n pianis. “Wanneer ek speel voel ek goed. Ek’s gelukkig,” sê hy met ’n breë glimlag. – Reuters, Le Parisien