Koko, die gorilla wat gebaretaal kon praat, is op 46 jaar in Kalifornië in haar slaap dood.
Reuters berig die gorilla-stigting wat haar bestudeer het, het die nuus Donderdag bekend gemaak.

Dr. Penny Patterson (links) en June Monroe by die vierjarige Koko. Patterson vra op dié foto vir Koko of sy honger is en Koko antwoord dat sy is. Foto: Getty Images
Koko was een van ’n handvol primate in die wêreld wat in gebaretaal kon kommunikeer, en volgens haar oppassers kon sy ook gesproke Engels verstaan.
Terwyl wetenskaplikes die bewering van gebaretaal soms betwyfel het, het dié “pratende” gorilla ’n wêreldbekende ambassadeur vir haar spesie, wat in hul natuurlike habitat in Sentraal-Afrika gestroop word, geword.
Sy was ook ’n ikoon vir kommunikasie en empatie tussen verskillende spesies.
“Sy was baie geliefd en sal gemis word,” het die stigting in ’n verklaring gesê.
Koko is op 4 Julie 1971 as Hanabi-ko (’n Japanse woord vir vuurwerk-kind) in ’n dieretuin in San Francisco gebore.
Dr. Penny Patterson, ’n Amerikaanse sielkundige, het ’n jaar ná haar geboorte met haar begin werk en haar gebaretaal geleer.
Die gorilla het talle verskynings in dokumentêre prente gemaak en was selfs twee keer die “voorbladmodel” vir die National Geographic-tydskrif.

Dr. Penny Patterson en Ron Cohn, haar navorsingsassistent, saam met Koko en Michael. Foto: Getty Images
In 1998 het Koko haar eerste verskyning op die internet in die eerste “interspesie-gesprek” gemaak.
Sy het dinge soos “ek hou van drankies” deur ’n tolk aan duisende kykers oorgedra.
Volgens NPR het Koko wetenskaplikes in 2012 verbaas toe sy geleer het om blokfluit te speel.
Dit het primate se skerp verstandelike vermoëns onderstreep en getoon dat hulle ook hul asemhaling kan beheer – iets wat wetenskaplikes gedink het ver bo hul vuurmaakplek is.
Koko het ook die diepte en sterkte van ’n gorilla se emosies getoon in die gelukkige en hartseer oomblikke wat sy met die wetenskaplikes gedeel het.
“Ek huil soos ’n baba,” was een van Koko se bewonderaars Jess Cameron se kommentaar Donderdag op Facebook.
“Die nuus breek my hart. Koko fassineer my al van kleins af. Sy het my so baie oor liefde, goedhartigheid, respek vir diere en ons planeet geleer.”