Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kommer in Europa dat Trump nie uitslag sal aanvaar

Met minder as drie weke voor die Amerikaanse presidentsverkiesing heers daar groot kommer in Europa oor die gevaar van ’n betwiste uitslag en die impak wat dit op Amerika en die buiteland sal hê.

Terwyl daar twyfel bestaan of pres. Donald Trump, indien hy sou verloor, die vreedsame oordrag van mag sal toelaat met sy voorstel dat die federale hooggeregshof moontlik die wenner moet bepaal, is die risiko van ’n betwiste uitslag beduidend.

In groot Europese stede hoop talle mense stilweg dat die verkiesing ’n verandering van leierskap en ’n verskuiwing in die Amerikaanse beleid oor kwessies soos die klimaat, handel, Navo en die kernkrag-ooreenkoms met Iran sal teweegbring.

Pres. Donald Trump Sondag op ’n verkiesingsveldtog in Carson City, Nevada. Foto: Reuters

’n Diplomaat van die Europese Unie (EU) het Maandag gesê dat die meeste regerings in Europa op ’n Joe Biden-oorwinning hoop, “hoewel niemand dit hardop erken nie”.

“Regerings kyk na scenario’s en gebeurlikheidsplanne, hoewel daar nog gekyk word na wat gedoen kan word in ’n geval van Trump wat die uitslag betwis,” sê die diplomaat.

Presidensiële verkiesings is in die verlede al betwis, soos in 2000 toe die regspanne van Al Gore en George W. Bush ’n maand lank oor die uitslag in die deelstaat Florida gestry het, wat later deur die federale hooggeregshof in Bush se guns beslis is.

Maar ’n dispuut kan hierdie keer langer duur en meer onvoorspelbaar wees, sê amptenare, insluitende die risiko van geweld, ’n uitgerekte regstryd en die moontlikheid dat Trump dalk sal weier om die Withuis te ontruim.

Só ’n scenario sal ernstige gevolge hê vir ’n land wat reeds verdeeld is oor kwessies van ras, politiek en die stryd teen die Covid-19-pandemie.

’n Betwiste resultaat kan ’n leiersvakuum laat ontstaan wat dalk deur Beijing, Moskou of Pjongjang benut kan word. Geopolitieke ontleders is ook bekommerd dat China teen Taiwan kan optree.

’n Onsekere uitslag in die Amerikaanse presidentsverkiesing kan vir Brittanje meer onsekerheid skep namate ’n moontlike Brexit sonder ’n ooreenkoms op 1 Januarie begin terwyl Brittanje probeer om ’n handelsooreenkoms met Amerika te beklink.

Die Britse ministerie van buitelandse sake sê egter hy is “gereed vir enige uitslag”.

“Daar is verskeie bekommernisse – een daarvan is dat Trump herkies sal word,” het ’n senior EU-amptenaar erken. “Die ander groot bekommernis is dat daar ná die verkiesing geweld op straat in Amerika kan uitbreek.”

Sommige Europese amptenare voel meer selfversekerd dat Biden as wenner uit die stryd sal tree.

“Ek dink die spel is amper verby,” sê ’n amptenaar.

“Ons het lank gedink dat Trump dit sou doen, maar nou sien ek dit nie.” - Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.