Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Philip: Koninklik, maar ook begrafnis vir familie

Dit was in die oomblik van stilte – met lede van die gewapende magte wat met geboë hoofde staan voordat die voetval van die begrafnis-prosessie die agt minute te voet na die St. George-kapel ingelui het – dat die grootsheid van prins Philip se finale afskeid getref het.

In wat in koninklike terme as ’n seremoniële afskeid bestempel word, is Philip se laaste wense eerbiedig: ’n perfekte mengsel van die militêre presisie waarmee die gewapende magte op koninklike geleenthede soos dié hul pligte uitvoer, en die intieme vertroosting van ’n eeue oue kapel waar die Tudor-koning Henry VIII onder die marmervloer van die kapel begrawe is.

Terwyl sowat 800 lede van verskillende afdelings van die gewapende magte in die vierkant van die Windsor-kasteel aangetree het, het Philip se kis, gedrapeer onder sy persoonlike vlag waarop hy erkenning aan sy Griekse en Deense herkoms gee, stadig op die groen Land Rover na die kapel beweeg.

Die speel van die lied I Vow to Thee My Country (dit is ook op Diana, ontslape Prinses van Wallis se begrafnis gespeel) was gepas vir ’n man wat nie net sy loopbaan nie, maar sy lewe gewys het aan sy land en sy monarg, sy geliefde Lilibet of Cabbage, soos hy haar genoem het.

Prins William het met ’n strak gesig en sy lippe saamgepers agter die stoet aangestap. Ook vir prins Harry moes dié kort stappie van die staatsingang van die kasteel na die kapel herinneringe opgeroep het van die dag in 1997 toe hulle saam met hul oupa agter die stoet van hul ma gestap het.

Op prinses Anne, Philip se dogter wat so baie na hom aard, se gesig was die hartseer sigbaar terwyl sy kop omhoog gestap het agter die kis waarop haar pa se vlootpet en swaard wat hy by koningin Elizabeth se pa gekry het, gelê het.

’n Kanon-saluut het opgeklink terwyl die prosessie die kronkelpaadjie na die kapel gevolg het. ’n Klok het elke minuut gelui.

Die atmosfeer was gedemp en somber.

Koningin Elizabeth is na die kapel vergesel deur ’n hofdame, maar sy moes alleen by die kapel instap.Foto: Getty Images
’n Bedroefde prinses Anne, enigste dogter van prins Philip en koningin Elizabeth, stap agter haar pa se kis. Prins Philip se vlootpet en ’n swaard wat hy as geskenk by Elizabeth se pa, koning George VI, gekry het, is saam met ’n ruiker van die koningin op sy kis geplaas. Foto: Reuters
Koningin Elizabeth word by die Galilee-ingang na die kapel ingewag deur David Connor, die deken van Windsor. Sophie, gravin van Wessex, staan langs haar seun, James, burggraaf Severn, met hul rug na die kamera. Camilla, hertogin van Cornwall en Catherine, hertogin van Cambridge, kan in die agtergrond gesien word. Foto: Getty Images
Die begrafnisstoet, met prins Philip se kis op die groen Land Rover waaraan hy help ontwerp het sodat dit as ’n lykswa kan dien, word gevolg deur sy kinders, kleinkinders en ander familielede. Agter die koninklikes stap lede van die prins se personeel. Die koningin het die prosessie in ’n Bentley gevolg. Foto: Getty Images
Die prosessie beweeg verby die ronde toring van Windsor met die monarg se reuse-vlag wat wapper. Foto: Getty Images
Lede van die gewapende magte het met geboë hoofde gestaan toe die prosessie voor die staatsingang van die kasteel vertrek. Foto: AP
Die kis word by die St. George-kapel ingedra. In normale omstandighede sou die kapel stampvol gewees het, maar weens die koronaviruspandemie is slegs 30 mense by die diens toegelaat. Foto: Getty Images
sophie wessex
Sophie, gravin van Wessex, vee haar neus af tydens die begrafnisdiens van haar skoonpa. Langs haar is haar man, prins Edward, en kinders, James, burggraaf Severn, en lady Louise Windsor. Foto: Getty Images.

Koningin Elizabeth het in die Bentley waarmee sy na die kapel gebring is, aan haar masker gevroetel. Sy was, soos die res van die vroue daar, in swart geklee soos koninklike protokol bepaal. Haar grys hare was afgeëts teen haar groot, swart hoed. Dit was die eerste keer dat sy ná haar man se dood agt dae gelede gesien is.

Sy is die koningin, sy sal haarself soos altyd met uitsonderlike waardigheid en uitsonderlike dapperheid handhaaf.

Die ontmoeting tussen die militêre en gewyde deel van Saterdag se seremonie was op die westelike trappe van die kapel. Lede van die koninklike marinierskorps het die kis van die Land Rover gelig en versigtig die trappe opgeklim. Die kis het by die kapeldeure tot stilstand gekom vir ’n minuut se gewyde stilte.

Voor en ná die minuut van stilte is geen lugverkeer vir ses minute lank by die bedrywige Heathrow-lughawe toegelaat nie.

In die kapel het die 30 begrafnisgangers, wat die koningin weens die inperkingsmaatreëls met die hand moes uitsoek, aan weerskante van die kis in die koorgedeelte van die kapel gesit. Prins William en prins Harry, wat met hul neef Peter Philips tussen hulle na die kapel gestap het, het oorkant mekaar gesit met prins Charles oorkant sy ma. Prins Andrew het soos die regulasies bepaal 2 m van sy ma af gesit.

’n Koor van net vier lede het met die prins se keuse van liedere, onder meer ’n verwerking van Psalm 104 wat spesiaal vir sy 75ste verjaarsdag getoonset is, die intimiteit van die dag voortgesit.

Dit was ’n koninklike begrafnis vir ’n prinsgemael van 73 jaar, maar ook ’n familiebegrafnis vir geliefdes wat in die kollig afskeid van hul eggenoot, pa, skoonpa, oupa en oupagrootjie moes neem.

Lees ook:

koningin elizabeth
'n Roerende beeld van koningin Elizabeth alleen in die koorgedeelte van die kapel. Foto: Reuters

Justin Welby, die aartsbiskop van Kantelberg, wat die diens gelei het, het Vrydagaand gesê dit sal verkeerd wees om vandag afleidings oor die koningin se gevoelens te maak. “Sy is die koningin, sy sal haarself soos altyd met uitsonderlike waardigheid en uitsonderlike dapperheid handhaaf. Terselfdertyd groet sy die mens met wie sy 73 jaar getroud was.

“Ek glo dat dit deur en deur ’n baie diep ervaring in enigeen se lewe is, en ek hoop dat die hele nasie – indien hulle in so iets glo – vir haar sal bid. En as hulle dit nie doen nie, hulle met haar sal simpatiseer en in hul harte hul meegevoel met haar sal betuig en sal hoop dat sy die krag sal vind in wat vir haar ’n oomblik van sielesmart moet wees.”

Die hartseer was duidelik te sien op die gesigte van haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, maar Elizabeth het soos altyd met die waardigheid van ’n monarg tot op die laaste hulde gebring aan haar rots.

Tydens die diens is Philip se lang lys titels voorgelees om aan te dui dat hy nou met sy dood van dié titels afstand doen en as ’n gewone mens begrawe word.

Sy oorskot is ná die diens met ’n hyser na die koninklike grafkelder onder die kapel gebring. Dit sal daar bly tot wanneer die koningin sterf. Dan sal hy saam met haar in die koning George VI-gedenkkapel begrawe word.

Die familie sou ná die diens waarskynlik in twee groepe in die kasteel byeenkom. Ingevolge die land se inperkingsmaatreëls mag daar nie meer as 15 mense saam byeen wees nie.

William en Harry is ook ná die diens gesien waar hulle met mekaar gesels, die wrywing ná Harry se besluit om ’n nuwe lewe in Amerika te lei, vergete op ’n dag wat gewy is aan die lewe van die langste prinsgemael tot nog toe in die Britse monargie se geskiedenis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.