Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Korona: SA’ers in China hou gesondheid dop

Suid-Afrikaners in China pas nougeset plaaslike owerhede se reëls toe om nie die gevreesde koronavirus op te doen nie.

Jessika Bailing (23) van Oos-Londen in die Oos-Kaap sê sy doen alles wat sy kan om haar teen die virus te beskerm.

Sy woon en werk die afgelope jaar in Wuhan – die middelpunt van die uitbreking.

Jessika Bailing (23) maak seker elke deel van haar lyf is bedek. In opdrag van die plaaslike owerhede in Wuhan moet inwoners handskoene, ’n masker en ’n donkerbril dra voordat hulle mag uitgaan. Foto: Verskaf

“Die distrik waar ek woon, is gewoonlik lewendig, daar is altyd baie mense in die omtrek en baie dinge om te doen. In die laaste week is die plek amper verlate,” sê Bailing.

Sy het self die afgelope twee weke nog net twee keer haar woonstel verlaat om inkopies te gaan doen. Elke keer was daar feitlik niemand op straat nie.

“Al word ons nie verbied om buite te wees nie, is die plek verlate en is daar niks om te doen nie. Ons bly dus maar binnenshuis,” sê Bailing.

Alle openbare vervoer is gestaak, wat sake verder bemoeilik. “Tensy jy bereid is om ’n fiets te huur, is dit moeilik om sonder vervoer oor die weg te kom in die stad. Ek verkies om eerder by my huis te bly,” sê Bailing.

En wanneer sy wel die veiligheid van haar woonstel moet verlaat, volg sy ’n rigiede stel voorsorgmaatreëls.

Ingevolge die plaaslike owerhede se voorskrifte moet inwoners ’n masker, rubberhandskoene en ’n bril dra om besmetting te voorkom.

Inwoners is ook aangeraai om hul hande gereeld te was, die maskers te dra, kontak met wilde diere te vermy, asook kontak met enigiemand wat korona-simptome toon en plekke waar daar baie mense bymekaar is.

Enige rou vrugte en groente moet deeglik gewas word voordat dit geëet kan word.

Bailing trek hierbenewens ook langmouklere aan en maak seker sy hou ’n veilige afstand van mense.

Die oomblik wat sy by die huis is, stort sy eers en was haar klere en skoene behoorlik voordat sy in die res van haar huis rondloop.

Inkopies word elkeen ook individueel deeglik geskrop om van enige moontlike spoor van die virus ontslae te raak.

Niemand daar is in kwarantyn nie, so ons voel veilig om daarheen te gaan

Gelukkig is kos nie skaars nie en kan sy die meeste van wat sy nodig het aanlyn koop, sê Bailing.

Sy maak ook seker sy eet gesond en drink vitamienaanvullings om haar immuunstelsel sterk te hou.

In ander streke, verder van Wuhan, is daar ook Suid-Afrikaners wat fyn dophou waaraan hulle raak.

Nadia Meintjies, wat in die Zhejiang-provinsie, sowat 700 km van Wuhan, woon, sê die meeste winkels is toe.

“Toegang tot die dorp word sterk beheer. Ons mag ook nie op straat sonder maskers nie,” sê Meintjies.

Sy is reeds die afgelope vier dae tuis en mag eers ná 8 Februarie terugkeer werk toe.

Hannes Kruger, wat in Hangzhou, hoofstad van die Zhejiang-provinsie skoolhou, sê die skoolvakansie daar is verleng omdat jong kinders ’n risikogroep is.

Skole sou op 9 Februarie heropen, maar geen skool mag nou voor 17 Februarie oopmaak nie. Elke provinsie sal dan eers die nuwe openingsdatums aankondig.

Debbie Erasmus-Malan, wie se seun Dewald ook tans daar skoolhou, sê hy is nie paniekerig oor die virusuitbreking nie.

“Almal word getoets en hulle dra hul maskers voordat hulle die huis verlaat,” sê Erasmus-Malan.

Sy is ook glad nie skrikkerig om volgende week vir hom daar te gaan kuier nie terwyl Dewald nou met verlof is.

“Niemand daar is in kwarantyn nie, so ons voel veilig om daarheen te gaan,” het Erasmus-Malan gesê.

Meer oor:  China  |  Suid-Afrikaners  |  Koronavirus  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.