Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Korona wêreldwyd: Britte dalk weer ingehok

Die daaglikse nuwe bevestigde gevalle van die koronavirus in Brittanje en die Europese Unie hou aan styg.

Die VSA het steeds die meeste gevalle met meer as 6,7 miljoen mense kumulatief wat reeds positief getoets is.

Met meer as 5,4 miljoen is Indië kort op sy hakke.

Die wêreldwye kumulatiewe getal is tans op meer as 30,8 miljoen.

Polisiemanne patrolleer Saterdagaand die bekende Jomfru Ane Gade-straat in Aaolburg, Denemarke. Kragtens nuwe inperkingsmaatreëls moet alle kuierplekke, restaurante en kroeë teen 22:00 hul deure sluit. Foto: Reuters

‘Tweede vlaag’ in Brittanje

Die Britse regering waarsku dat ’n nasionale inperking weer ingestel kan word as mense nie die voorsorgmaatreëls nakom nie.

Matt Hancock, minister van gesondheid, het Sondag gesê Brittanje is by ’n waterskeidingsoomblik in die pandemie en dat die inperking weer ingestel kan word as mense nie die maatreëls om die verspreiding van die virus te keer nakom nie.

Nuwe bevestigde gevalle van die koronavirus het die afgelope weke skerp gestyg tot meer as 4 000 per dag.

Boris Johnson, Britse premier, het daarna verwys as ’n “tweede vlaag”. Strenger inperkingsmaatreëls is reeds in gebiede landwyd ingestel – met Londen moontlik volgende op die lys.

Johnson het Saterdag boetes van tot £10 000 aangekondig vir mense in Engeland wat nie gehoor gee aan ’n nuwe reël ingevolge waarvan hulle in selfisolasie moet gaan as hulle in kontak was met iemand wat die koronavirus onder lede het nie.

Spanjaarde betoog

Inwoners van die woonbuurt Vallecas in Madrid, Spanje, betoog Sondag teen wat hulle meen nie voldoende steun vir inwoners van dié buurt is nie. Die voorkoms van die koronavirus in die buurt is van die hoogste in Madrid. Die buurt sal van Maandag saam met nog vyf ander buurte aan strenger inperkingsmaatreëls onderwerp word. Foto: Reuters

Spanjaarde het Sondagoggend in Madrid teen nuwe koronavirusregulasies betoog.

Baie het die bedanking van Isabel Díaz Ayuso, president van die Outonome Gemeenskap van Madrid, geëis uit protes teen die plaaslike regering se besluit om nuwe inperkingsregulasies in te stel. Daarmee word onder meer die publiek se beweging in 37 sones in die Madrid se stedelike gebied verbied en byeenkomste word tot met ses mense beperk.

Gratis toetse in Frankryk

Met nagenoeg 13 500 nuwe gevalle het Frankryk Saterdag ’n nuwe rekord van daaglikse nuwe gevalle aangeteken. Die persentasie toetse in die land wat positief is, het tot 5,6% gestyg.Owerhede het die toename toegeskryf aan die nuwe grootskaalse toetsing nadat die Franse regering die toetse gratis begin doen het.

1 miljoen toetse per dag in VSA

Die VSA het intussen ’n nuwe rekord opgestel deur 1 miljoen koronavirustoetse per dag te doen. Volgens verskeie kenners moet die land egter 6 miljoen tot 10 miljoen toetse per dag doen om uitbrekings in bedwang te bring.

Virus op Chinese verpakking

Owerhede in die Chinese provinsie Jilin het die koronavirus aangetref op die verpakking van ’n ingevoerde pylinkvis. Een van die pakke het via die provinsiale hoofstad Changchun in die stad Fuyu aangekom, het die gesondheidskantoor in Fuyu Sondag op sy amptelike WeChat-rekening gesê. Die owerhede het almal wat van dié produk gekoop het aangeraai om hulle te laat toets.

Meer as 92 000 nuwe gevalle in Indië

Dit het Indië sewe maande geneem om 2 miljoen infeksies te haal en 42 dae om 5 miljoen te bereik.

Infeksies in Indië het Sondag binne 24 uur die 5,4 miljoen-merk verbygesteek met ’n toename van 92 605 nuwe gevalle en 1 133 sterftes. Die getal aktiewe koronavirusgevalle in dié land het Sondag op 1 010 824 gestaan, terwyl 4 303 043 mense tot dusver herstel het. Dit verteenwoordig 18,7% van die totale gevalle in Indië tot dusver, berig die Hindustan Times.

- Bykomende bronne: Reuters, EuroNews en The Guardian

Meer oor:  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.