Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Koronavirus: G20 skenk miljarde om wêreldekonomie te beskerm

Die magtige G20-groepering het altesame $5 000 miljard beloof om die wêreldekonomie teen die Covid-19-pandemie te beskerm.

Die G20-leiers het in ’n videokonferensie, wat deur koning Salman bin Abdulaziz al-Saud van Saoedi-Arabië, die huidige G20-voorsitter, belê is, onderneem om alles moontlik te doen om die pandemie te stuit.

Meer as 23 000 mense wêreldwyd is al weens die virus dood, terwyl meer as 500 000 mense positief getoets is. Daar word gevrees die pandemie kan lei tot ’n wêreldwye resessie.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook aan die konferensie deelgeneem en gewaarsku die vooruitgang wat baie Afrikalande die laaste paar jaar op ekonomiese gebied gemaak het, kan weens die pandemie uitgewis word.

Al Jazeera berig pres. Donald Trump van Amerika het volgens ’n ingeligte op die vergadering gesê Amerika steun multilaterale optrede en koördinering teen die pandemie.

Pres. Cyril Ramaphosa

Ramaphosa het volgens ’n verklaring van die presidensie ’n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om oop handelsdeurgange te verseker sodat farmaseutiese en ander mediese voorraad makliker na Afrika gestuur kan word.

Die G20-leiers het later in ’n verklaring gesê die groepering sal alles moontlik doen om toe te sien dat mediese voorraad en ander goedere vrylik oor grense heen vloei om die huidige probleme met die aanvoerketting te oorkom.

Die G20 bestaan uit 19 lande en die Europese Unie (EU). Die 19 lande is Argentinië, Australië, Brasilië, Kanada, China, Duitsland, Frankryk, Indië, Indonesië, Italië, Japan, Mexiko, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Korea, Turkye, Brittanje, Amerika en Suid-Afrika.

Ramaphosa, tans ook die voorsitter van die Afrika-Unie (AU), sê daar is groot kommer in Afrika oor die tekort aan medisyne, beskermende toerusting en entstof.

Die rede is onder meer dat baie fabrieke in Afrika gesluit is en baie lande voorraad vir eie gebruik terughou.

“Dit is noodsaaklik dat ons wêreldwyd gekoördineerd pogings aanwend om produksie te verhoog en die beskikbaarheid van mediese produkte en toerusting te verbeter,” het Ramaphosa aan die G20-leiers gesê.

“Gegewe die beperkte gesondheidsinfrastruktuur in Afrika en die werklikheid dat die meeste mediese voorraad op die vasteland ingevoer moet word, vra ons dat die oop deurgange geskep word.

Gegewe die beperkte gesondheidsinfrastruktuur in Afrika en die werklikheid dat die meeste mediese voorraad op die vasteland ingevoer moet word, vra ons dat die oop deurgange geskep word.

“Die huidige pandemie sal versleg en die ekonomieë van baie lande in Afrika nadelig tref. Dit kan die vooruitgang wat baie lande hier die laaste paar jaar gemaak het, ongedaan maak.

“Die pandemie het reeds ’n verwoestende invloed op baie lande. Daarom is ’n robuuste ekonomiese stimulus-pakket nou nodig,” het Ramaphosa gesê.

Hy sê sentrale banke in Afrika, insluitende die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het byvoorbeeld begin deur rentekoerse te verlaag om likiditeit te verhoog.

“Dié pogings het ondersteuning nodig.”

Ramaphosa het die internasionale gemeenskap gevra om solidariteit met Afrika te toon en die vasteland finansieel te steun. Dit sal help om die vasteland se humanitêre behoeftes aan te pak en hom help om ekonomies te herstel.

Sowat ’n derde van die lande suid van die Sahara het erge skuldverpligtinge. Dit sal baie help as die internasionale gemeenskap hulle van dié skuld sal kwytskeld.

Ramaphosa het ’n beroep op die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds en die Ontwikkelingsbank van Afrika gedoen om skuldverligting aan dié lande te bied.

Die G20-leiers het dié magtige instellings gevra om die arm lande te help.

Ramaphosa het ook aan die G20-leiers gesê op ’n vergadering van die AU-buro het ’n paar lande binne ’n halfuur sowat $20 miljoen beskikbaar gestel vir ’n Afrika-koronavirus-fonds.

Meer oor:  G20  |  Cyril Ramaphosa  |  Skenk  |  Koronavirus  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.