Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Aanklaer dink Madeleine McCann is dood

’n Aanklaer glo ’n veroordeelde Duitse kindermolesteerder is verantwoordelik vir die dood van Madeleine McCann, die driejarige Britse meisie wat in 2007 in Portugal verdwyn het.

Sy het op 3 Mei van daardie jaar op ’n gesinsvakansie in die Algarve uit haar slaapkamer verdwyn terwyl haar ouers saam met vriende in die oord Praia da Luz geëet het.

Haar verdwyning het ’n internasionale soektog ontketen met plakkate van die meisie wat wêreldwyd versprei is en beroemdes wat namens die gesin inligting gevra het om haar op te spoor.

“Ons neem aan dat sy dood is,” het Hans Christian Wolters, staatsaanklaer van Braunschweig, Donderdag gesê. “Die kantoor van die openbare aanklaer in Braunschweig ondersoek ’n klag van moord teen ’n 43-jarige Duitse burger.”

Klein Madeleine se lyk is nooit gevind nie, maar die jongste verklaring uit Duitsland oor haar dood was tot dusver die mees gesaghebbende oor wat met haar kon gebeur het.

Die McCann-gesin en hul ondersteuners het sedert haar verdwyning nog altyd gehoop dat sy lewend gevind sou word.

Die Duitse polisie het vroeër gesê hoewel die presiese verloop van die gebeure nog ondersoek word, kon die verdagte ’n seksuele motief gehad het. Die moontlikheid dat hy die slapende Madeleine op die ingewing van die oomblik tydens ’n inbraak in die woonstel ontvoer het, word nie uitgesluit nie.

Die saak word as ’n moord hanteer, hoewel die Britse polisie sê dit bly ’n ondersoek na ’n vermiste persoon.

Madeleine se ouers sê hoewel hulle die voorval agter hulle wil sit, beskou hulle die Duitse verdagte as baie belangrik.

Kate McCann, wie se dogter Madeleine in 2007 op ’n vakansie in Portugal verdwyn het, op 12 Mei 2011 op ’n nuuskonferensie met die bekendstelling van haar boek in Londen. Foto: Reuters
Ons neem aan dat sy dood is.

“Al wat ons nog ooit wou gehad het, is om haar op te spoor, die waarheid vas te stel en die skuldiges aan die pen te laat ry,” het Kate en Gerry McCann Donderdag in ’n verklaring gesê.

Volgens Wolters is die verdagte, wie se identiteit nie bekend gemaak is nie, ’n seksoortreder met veelvuldige skuldigbevindings, onder meer vir seksuele mishandeling van kinders.

Hy het tussen 1995 en 2007 in Algarve gewoon en in die spysenieringsbedryf gewerk. Volgens die Duitse polisie het hy in daardie tydperk by hotelle en vakansie-woonstelle ingebreek en dwelms verkoop. Hy word aangehou in verband met ’n ander saak.

Die Britse en Duitse polisie volg nog inligting op oor die man wat in Braunschweig, Noord-Duitsland, gebly het voordat hy na die buiteland verhuis het. Hulle het ook foto’s uitgereik van voertuie – ’n Volkswagen-kampeerwa en ’n Jaguar – wat hy destyds gebruik het.

Die polisie het aangedui dat hy ’n ongeïdentifiseerde persoon, wat op 3 Mei 2007 tydens die verdwyning van Madeleine met die Duitse verdagte vanaf ’n Portugese telefoonnommer gepraat het, wil ondervra. – Reuters

Meer oor:  Madeleine Mccann  |  Portugal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.