Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Australië het reuse-taak met 400 walviskarkasse

Beamptes in Australië moes Donderdag begin beplan aan die makabere taak om van die karkasse van sowat 400 walvisse ontslae te raak, namate die hoop vervaag dat daar nog enige oorlewendes sal wees van een van die grootste massastrandings van dié soogdiere.

Reddingspersoneel kon teen Donderdagmiddag sowat 70 van die langvinloodswalvisse, wat op die land se afgeleë suidkus gestrand het, bevry. Volgens beamptes het die meeste van die bevryde walvisse daarin geslaag om na dieper water te swem, maar vier sal moontlik van kant gemaak moet word en ander mag dalk terugkeer wanneer die gety draai.

Die uurglas loop leeg vir nog 20 oorblywende walvisse wat op ’n wye sandbank in vlak water spartel. Die skool van 470 walvisse is vier dae gelede vir die eerste keer opgemerk naby aan die kus noordwes van die eiland Tasmanië.

“Ná die volgende 24 uur is dit onwaarskynlik dat enige oorblywende diere sal oorleef,” het Nic Deka, die voorvallebestuurder van die regering se parke- en natuurlewediens, gesê. Die owerhede het derhalwe begin planne beraam om van minstens 380 ter see ontslae te raak.

Die uurglas loop leeg vir nog 20 oorblywende walvisse wat op ’n wye sandbank in vlak water spartel.

“Ons voorkeur is om dit ter see op te ruim, maar ons luister nog na die raad van kenners oor waar presies die afsetpunt kan wees,” het Deka gesê. Die verrottende karkasse kan ’n gesondheidsgevaar inhou, sê hy.

Mariene bioloë het ook gewaarsku dit sal ’n uitdagende taak wees. “Om met 400 dooie walvisse te doen te hê is ’n groot probleem,” het Vanessa Pirotta, ’n mariene wetenskaplike aan die Macquarie-Universiteit, gesê. “Dit sal baie ver van die kus af moet wees.”

Die stranding, die grootste aangetekende een in hedendaagse Australië, het mense se aandag gevestig op ’n natuurverskynsel wat vir wetenskaplikes grotendeels nog ’n raaisel bly.

’n Reddingspan bestaande uit meer as 60 staatswetenskaplikes en vrywilligers het hulle na die afgeleë toneel gehaas om in ysige water die moeisame taak aan te pak om die walvisse weer te water te laat. Vier of vyf mense is nodig om ’n harnas aan ’n enkele walvis vas te gespe en die dier dan te begelei terwyl ’n boot dit na dieper water sleep. – Reuters

Meer oor:  Australië  |  Verwydering  |  Walvisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.