Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Beijing keur omstrede wet vir Hongkong goed

Beijing het Dinsdag sy omstrede nasionale veiligheidswetgewing vir Hongkong goedgekeur, wat kritici vrees dié semi-outonome gebied se politieke vryhede sal wegkalwe en die weg sal baan vir China om sy outoriteit in die gebied te verstewig.

Onlustepolisie in Hongkong vorm ’n kordon teen ’n protesoptog teen die nasionale veiligheidswetgewing van China. Foto: Getty Images

Minder as 40 dae nadat Chinese wetgewers die eerste keer voorgestel het dat ’n wet teen opstande in Hongkong ingestel word, het die staande komitee van die Nasionale Volkskongres van China (NPC) die wetgewing eenparig aanvaar, volgens die DAB, Hongkong se grootste pro-Beijing-party.

Besonderhede oor die wetgewing – wat kom in reaksie op verlede jaar se dikwels gewelddadige pro-demokrasie-betogings in die stad en waarvan die doelwit is om ongehoorsaamheid aan die regering, terrorisme, afskeiding en samespanning met buitelandse magte te takel – sal later Dinsdag uitgereik word.

Carrie Lam, Hongkong se leier, het Dinsdag in haar weeklikse media-inligtingsessie geen kommentaar gelewer op die plaaslike mediaberigte dat die wetgewing aanvaar is nie.

“Wanneer die NPC die wetgewing goedkeur, en ek sê nie dat dit hierdie keer beslis goedgekeur sal word nie,” het sy gesê en haarself gekorrigeer en bygevoeg: “As die NPC die wet aanneem, sal ons ons bes doen om te reageer op jul vrae, veral oor die implementering daarvan.

Betogers reageer terwyl ’n blou vloeistof vanaf ’n gepantserde polisievoertuig in Hongkong op hulle gespuit word gedurende verlede jaar se betogings. Foto: AP

“Dit is nie gepas vir my om kommentaar te lewer op vrae rakende die nasionale veiligheidswetgewing nie,” het sy gesê.

Vandeesmaand het China se amptelike staatsmedia-agentskap, Xinhua, ’n paar van die bepalings van die wetgewing onthul, onder meer dat dit bestaande Hongkongse wetgewing sal vervang en dat die mag van die interpretasie daarvan tot die top-komitee van China se parlement sal behoort.

Beijing sal na verwagting ’n nasionale veiligheidskantoor in Hongkong vestig om oor die stadsregering “toesig te hou, dit te lei en te ondersteun”.

Regters vir veiligheidsake sal ook na verwagting deur die stad se leier aangestel word.

Dit is nog onduidelik watter spesifieke aktiwiteite onwettig verklaar sal word, hoe presies dit gedefinieer word en watter straf dit sal dra.

’n Man hou ’n plakkaat teen die nasionale veiligheidswetgewing van China omhoog gedurende ’n protesoptrede in Hongkong. Foto: Getty Images

Die owerhede in Beijing en Hongkong het herhaaldelik gesê die wetgewing is gemik op ’n paar “moeilikheidmakers” en sal nie die regte en vryhede van die inwoners beïnvloed nie, en ook nie beleggers se belange in die stad nie.

Die wet tree in werking sodra dit in die land se staatskoerant gepubliseer word.

Die Verenigde Koninkryk het onderneem om sy immigrasiereëls te verander as die wetgewing deurgevoer word om inwoners van Hongkong “ ’n roete na burgerskap in die VK” te bied.

Amerika het Maandag gesê hy sal ophou om sensitiewe militêre artikels na Hongkong uit te voer, en die stad se spesiale handelstatus, apart van dié van China, sal opgehef word. Amerika het ook gesê daar sal beperkings op visums wees vir huidige en voormalige Chinese amptenare wat “verantwoordelik is vir die ondermyning van Hongkong se hoë mate van outonomie”. – Bronne: Reuters, The Guardian en BBC

Meer oor:  Hongkong  |  China  |  Beijing  |  Veiligheidswet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.