Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Bekendes by gedenkdiens vir George Floyd

“Haal jou knie van ons nek af,” het die prominente burgerregteaktivis eerw. Al Sharpton aan roubeklaers by George Floyd se gedenkdiens in Minneapolis gesê.

Floyd, ’n swart Amerikaner, is verlede week weens versmoring dood toe Derek Chauvin, ’n polisieman, hom op die grond met sy inhegtenisneming vasgepen het. Floyd het herhaaldelik gesê hy sukkel om asem te kry. ’n Selfoonvideo is van die voorval geneem en nadat dit versprei is, het dit tot woede en grootskaalse betogings oor Amerika heen gelei.

Reuters berig Sharpton het in ’n emosionele huldiging gesê Floyd behoort nie onder die oorledenes te wees nie.

“Hy is dood weens Amerika se wanfunksionele strafregstelsel. Dit is tyd dat ons in George se naam opstaan en sê ‘Haal jou knie van ons nek af.’ ”

Roubeklaers was ook agt minute en 46 sekondes lank stil – die tyd wat Floyd in ’n straat in Minneapolis gelê het terwyl die polisieman sy keel met sy knie toegedruk het.

Die diens is onder andere deur die akteurs Kevin Hart en Tiffany Haddish bygewoon, asook sen. Amy Klobuchar van Minnesota.

Intussen het betogers vir ’n tiende agtereenvolgende dag na die strate van verskeie Amerikaanse stede teruggekeer, wat Atlanta, Washington DC, Denver, Detroit en Los Angeles insluit. Hoewel dit soms rumoerig was, was die byeenkomste meestal ordelik in teenstelling met die vorige aande waar betogers brande gestig, winkels geplunder en soms met die polisie gebots het.

Die verandering in gemoedstoestand dui volgens talle betogers en organiseerders op die vasberadenheid om die woede oor Floyd se dood in ’n hernude burgerregtebeweging te omskep, wat vir die hervorming van Amerika se strafregstelsel vra.

Soos vroeër berig, het die intensiteit van die betogings in Amerika Woensdag begin afneem. Meer as 9 000 mense is die afgelope tien dae in hegtenis geneem ná misdade wat met die onluste verband hou. In verskeie groot stede is die aandklokreël wat ingestel is om die betogings hok te slaan opgehef.

In Washington DC het honderde, indien nie duisende nie, by die Lincoln Memorial byeengekom. Talle het op die grond gesit en luister na sprekers en gedreunsing: “Sê sy naam – George Floyd”, voordat ’n donderstorm hulle uiteengejaag het. ’n Ander groep betogers het naby die Withuis vergader, waar konstruksiewerkers betonhindernisse en heinings rondom die presidensiële woning opgerig het.

Honderde betogers het vreedsaam by die Lincoln Memorial byeengekom om teen die dood van George Floyd te betoog. Foto: Reuters

Die ander drie polisielede wat verlede Maandag by Floyd se inhegtenisneming betrokke was, het hul eerste verskyning in die hof gemaak. Thomas Lane, J. Alexander Kueng en Tou Thao word daarvan aangekla dat hulle Chauvin aangepor en gehelp het in die misdaad waarvan hy aangekla word.

Die BBC berig hul borgtog is op $1 miljoen vasgestel, maar sal tot $750 000 verlaag word as hulle alle wapens in hul besit indien en aan ander voorwaardes voldoen, het die regter gesê.

Chauvin is van moord sonder voorbedagte rade aangekla en sal Maandag in die hof verskyn.

Die vier voormalige polisiebeamptes word elkeen deur ’n maksimum vonnis van 40 jaar in die gesig gestaar as hulle aan die ernstige aanklagte skuldig bevind word. – Reuters

Die vier voormalige polisielede is (kloksgewys van links bo) Derek Chauvin, Tou Thao, Thomas Lane en J. Alexander Kueng. Foto: Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.