Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Biden en Trump se tweede debat ‘meer beskaafd’

Joe Biden, die Demokrate se presidentskandidaat, het sy aanval op pres. Donald Trump oor sy hantering van die koronaviruspandemie verskerp tydens Donderdagaand se finale presidensiële debat wat regstreeks uitgesaai is.

Met slegs 12 dae voor die verkiesing op 3 November was die debat, wat in Nashville, Tennessee, gehou is, een van die Republikeinse Trump se laaste oorblywende geleenthede om ’n veldtog te hervorm wat aan ’n pandemie geken word wat meer as 221 000 mense in Amerika se lewens geëis en die ekonomie verwoes het.

“Enigeen wat vir só baie sterftes verantwoordelik is, moet nie as president van die Verenigde State van Amerika aanbly nie,” het Biden gesê.

Trump het meer beheerst voorgekom as in die eerste debat teen Biden in September, toe hy aggressief beledigings na Biden geslinger het, sy hantering van die pandemie verdedig het, en volgehou het, soos hy nog altyd doen, dat die ergste van die pandemie verby is.

Tog was Trump se boodskap oor die Covid-pandemie Donderdagaand nog dieselfde.

“Ons is besig om die keerpunt te bereik. Dit gaan weg.”

Meningspeilings dui daarop dat die meeste Amerikaners nie saamstem met Trump se reaksie tot die virus nie. Verskeie Amerikaanse deelstate, insluitend die verkiesing “swaaistaat” van Ohio, het Donderdag ’n rekordgetal van Covid-19-gevalle in ’n enkele dag aangemeld, wat daarop dui dat die pandemie opnuut versnel.

Hoewel Trump in meningspeilings aansienlik agter Biden, die voormalige adjunkpresident, is, sal die stryd veel feller wees in sommige deelstate waar die uitslag deurslaggewend vir die kiesstryd sal wees.

Volgens die jongste Reuters/Ipsos-peiling, wat tussen 20 en 22 Oktober gedoen is, loop Biden voor met agt persentasiepunte. Sy voorsprong het effens verklein oor die afgelope paar weke tot waar dit in September was, voordat die Covid-virussiekte by Trump gediagnoseer is.

biden vs trump grafieka

Relatief min kiesers moet nog besluit vir wie hulle gaan stem, en Trump se kans om die uitkoms te beïnvloed is dalk besig om te kwyn.

’n Rekord getal van 47 miljoen Amerikaners het reeds hul stemme uitgebring, wat die vroeë stemmery van die 2016-verkiesing oorskadu.

Die eerste deel van die debat was heel beskaafd. Daar was nie volgehoue onderbrekings en persoonlike aanvalle soos in die eerste debat nie.

As voorsorgmaatreël om die chaos van die eerste debat te voorkom, is albei kandidate se mikrofone Donderdag afgeskakel terwyl die ander persoon die kans gegun is om vir twee minute lank sy inleiding oor ’n onderwerp te stel. Selfs nadat die mikrofone weer aangeskakel is, het die kandidate mekaar meestal toegelaat om klaar te praat.

Biden het Trump daarvan beskuldig dat hy nie sy verantwoordelikheid tydens die pandemie ernstig opneem nie.

Steeds China se skuld

“Ek neem volle verantwoordelikheid. Dit is nie my skuld dat dit hierdie punt bereik het nie, dit is China se skuld,” het Trump gesê.

Trump het Donderdag beweer ’n entstof is amper gereed en gesê die goedkeuring sal binne “weke” aangekondig word, voordat hy erken het dat dit nie gewaarborg is nie.

Verskeie kenners, insluitende administratiewe amptenare, het gesê dit is onwaarskynlik dat ’n entstof voor middel 2021 in grootmaat beskikbaar sal wees.

Trump se veldtogpersoneel het nog voor die debat reeds aangedui dat die strydlustige president Biden sou vasvat omdat dat hy nie meer vermag het in sy bykans halfeeu in die staatsdiens nie en hy sou ook fokus op “korrupte optrede deur Biden se familie”.

Trump het Tony Bobulinski, ’n voormalige sakegenoot van Biden se seun, Hunter, as ’n gas genooi, wat beweer dat hy bewyse het van sakebande tussen die Biden-familie en ’n Chinese staatsonderneming. Hy het saamgewerk in ’n ondersoek wat deur die Republikeins geleide intelligensiekomitee in die senaat gedoen is, wat verlede maand bevind het daar is geen bewyse dat Joe Biden onbehoorlike invloed oor Amerikaanse beleid uitgeoefen het nie.

Trump
Pres. Donald Trump van Amerika praat op die tweede en laaste debat in aanloop tot die verkiesing. Die debat is by die Belmont University in Nashville, Tennessee gehou. Foto: Reuters

Andrew Bates, ’n woordvoerder vir Biden se veldtog, het in ’n verklaring Bobulinski se teenwoordigheid as ’n “desperate, patetiese klug” bestempel.

Trump het Joe en Hunter Biden herhaaldelik van onetiese praktyke in China en die Oekraïne beskuldig. Daar is egter geen bewyse wat die aantygings van korrupsie teen hulle staaf nie, en Biden het dit as vals en ongegrond bestempel.

Trump se pogings om onderduimse bewyse teen Hunter Biden se Oekraïne-sakeverbindings te bekom, het Biden beskuldigings na die president laat gooi.

Sedert Trump na die Withuis is, word hy en sy kinders van belangebotsing beskuldig, waarvan meeste die gesin se eiendoms- en hotelondernemings in Amerika en die buiteland behels.

Dié gas van Donderdag het herinner aan die 2016-debat tussen Trump toe die Demokratiese teenstander Hillary Clinton, waartydens hy vroue as gaste genooi het wat haar man, voormalige pres. Bill Clinton, van seksuele wangedrag beskuldig het.

Trump word deur soortgelyke beskuldigings in die gesig gestaar, wat hy ontken.

Voor die debat het Biden se assistente gesê dat hy nie moet toelaat dat Trump se aanvalle oor sy familie hom van stryk af bring nie. ’n Adviseur van Biden het gesê dit was belangrik dat Biden “presidensieel” voorkom.

Minstens 73 miljoen mense het na die omstrede eerste debat gekyk. Trump het onttrek van verlede week se beplande debat omdat dit virtueel gehou sou word, aangesien hy die Covid-19-virussiekte opgedoen het.

Die plexiglas-versperrings wat die kandidate van mekaar geskei het is vir Donderdag se debat verwyder, nadat Trump kon bewys hy is negatief vir Covid-19 getoets, het ’n bron gesê.

Die sowat 200 mense wat die debat bygewoon het se temperature is gemeet voor hulle die venue binnegegaan het en almal was verplig om ’n masker te dra. – Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.