Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Biden keer onmiddellik omstrede Trump-besluite om

Pres. Joe Biden van Amerika het op sy eerste dag by die werk, nadat hy as Donald Trump se opvolger beëdig is, 15 uitvoerende bevele onderteken.

Hy het daarmee Trump se beleid oor onder meer die muur tussen Amerika en Mexiko, die klimaat, gesondheid en Moslems omgekeer.

Biden het aan joernaliste in die Ovaal-kantoor gesê daar kan nie tyd gemors word nie.

“Van die bevele en opdragte wat ek vandag onderteken gaan help om die rigting waarin die Covid-19-krisis beweeg, te verander, ons gaan klimaatsverandering beveg op ’n manier wat ons dit nog nie tot dusver gedoen het nie en ons gaan rassegelykheid bevorder en ander gemeenskappe wat nie behoorlik bedien word nie ondersteun,” het Biden gesê.

Biden het die proses waarvolgens Amerika hom van die Wêreldgesondheidsorganisasie onttrek, gestaak.

Hy het ’n bevel onderteken sodat ’n nuwe kantoor in die Withuis ingestel word wat die land se reaksie op die koronavirus-pandemie koördineer.

Hy het die proses begin dat Amerika weer toetree tot die Parys-klimaatsooreenkoms en ’n breedvoerige bevel onderteken dat klimaatsverandering onmiddellik aandag kry.

Hy het Trump se nood-deklarasie herroep wat gebruik is om befondsing vir die grensmuur met Mexiko te bekom.

Die reisverbod wat Trump ingestel het teen sommige Moslem-lande is ook opgehef.

Pres. Joe Biden Woensdag by sy lessenaar in die Ovaal-kantoor van die Withuis met die stapel uitvoerende bevele wat hy onderteken het. Foto: Reuters

Biden, Harris ‘stap werk toe’

Pres. Joe Biden het Woensdagmiddag ná ’n "afwesigheid" van vier jaar weer die drumpel van die Withuis betree.

Biden was die visepresident onder pres. Barack Obama en het van 2009 tot 2017 vir twee termyne in die Withuis diens gedoen.

Biden het om 21:45 (SA tyd) saam met sy vrou, Jill, uit die veiligheidsmotor, The Beast, – ’n pikswart Cadillac – geklim en die laaste paar honderd meter na die Withuis gestap. Hy het met sy masker op na ’n joernalis of twee gedraf en hom ’n vuisstamp gegee. Agter hulle was visepres. Kamala Harris en haar gesin, wat ook uit hul motor geklim het om na die Withuis te stap.

Die groot vraag op die hele Amerika se lippe is wat in die brief staan wat oudpres. Donald Trump vir Biden in die Ovaal-kantoor gelos het. Die brief is ’n tradisie, maar ná wat alles die afgelope tyd in Amerika gebeur het, het hulle nie veel ooghare vir mekaar nie.

Die Bidens het voor die Withuis se voordeur gestop en na ’n orkes geluister. Hulle het mekaar ’n stywe drukkie gegee, steeds met hul maskers op, en toe die allerheiligdom van die Amerikaanse heiligdom betree. Melissa Cohen, die Suid-Afrikaans gebore skoondogter van Biden, het langs haar man, Hunter, gestap. Hul eersteling, Beau, was in sy pa se arms. – Charles Smith

Pres. Joe Biden, sy vrou, Jill Biden, en hul kinders en kleinkinders het voor die Withuis uit hul motors geklim en as ’n familie saam na die Withuis gestap. Regs is Hunter Biden, en sy Suid-Afrikaans gebore vrou, Melissa Cohen, en hul eersteling. Foto: AP
Pres. Joe Biden en sy vrou, Jill, gee mekaar ’n drukkie. Foto: AP
Visepres. Kamala Harris en haar man, Doug Emhoff, het ook saam met hul familie na die Withuis gestap. Foto: Reuters
Pres. Joe Biden, en sy vrou, Jill, stap voor die Withuis saam met hul familie. Foto: AP
Die ‘Beast’, die ampsmotor van pres. Joe Biden, se nommerplate is spesiaal verander om die 46ste president van Amerika welkom te heet. Foto: AP
Pres. Joe Biden vuisgroet Muriel Bowser, burgemeester van Washington DC. Foto: AP
Die Biden-gesin stap agter pres. Joe Biden en sy vrou, Jill, die Withuis binne. Foto: AP


Meer oor:  Washington  |  Amerika  |  Klimaat  |  Amerikaanse Verkiesing  |  Moslems  |  Joe Biden  |  Kamala Harris  |  Inhuldiging  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.