Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: 7 jaar voortvlugtig, nou is hy aangekeer in Brasilië

Daar is net trane.

Dries Venter (69) erken ruiterlik dat hy begin huil het toe hy Donderdag gehoor het sy dogter se vermeende moordenaar is ná sewe jaar in Brasilië aangekeer.

“Dis ’n mengsel van verligting en van hartseer oor my meisiekind,” sê hy.

Gerhard Jansen van Vuuren is Donderdag omstreeks 12:00 (Brasiliaanse tyd) in Rio de Janeiro gearresteer.

Gerhard Jansen van Vuuren is Donderdag in Brasilië gearresteer nadat hy vir sewe jaar voortvlugtend was. Foto: Verskaf

Hy het in Mei 2013 landuit gevlug kort voordat die verhoor teen hom sou begin het vir die moord op sy gewese meisie, Andrea Venter (24).

Sy is op 2 Mei 2011 glo so erg met ’n ystervuis aangerand dat haar blonde hare pienk bevlek was van die bloed. Sy is ook 14 keer met ’n mes gesteek.

Dit was nege jaar van rou hartseer vir haar geliefdes.

Haar ma is intussen dood aan ’n hartaanval.

“Sommige sê hulle dink dis eerder van ’n gebroke hart,” sê Andrea se pa.

Die voortvlugtende Gerhard Jansen van Vuuren word na sy arrestasie deur die Brasiliaanse polisie weggelei Foto: Verskaf

Hy wil graag op die lughawe wees wanneer Jansen van Vuuren, nou 39, aan Suid-Afrika uitgelewer word en hom in die oë kyk.

“Ek wil net weer vrede kry. Ek het ’n spesiale papier vir hom. Nie sommer ’n gewone een nie - dis gelamineer.

“Ek het daarop vir hom goed geskryf. Ek wil hom in die oë kyk en vir hom gee.

Venter sê dat ’n brigadier in die polisie hom Donderdag om 18:15 gebel en gevra het of hy sit: Daar is goeie nuus.

Die voortvlugtende Jansen van Vuuren is in Brasilië vasgetrek.

Venter raak kortasem as hy daaroor praat en die emosies wel weer op.

Gerhard Jansen van Vuuren destyds buite die hof in Suid-Afrika, voordat hy verdwyn het. Foto: Argief

“Ek weet sy arrestasie sal nie my meisiekind terugbring nie. Niks sal nie. Maar die ding moet afgehandel word,” sê hy.

Dit klink vir hom of Jansen van Vuuren daardie kant weer ’n lewe begin lei het – ’n nuwe meisie, ’n baba van ’n paar maande oud.

“So asof hy gedink het hulle (die polisie) het van hom vergeet...”

Of dat haar pa van die verskeie beweerde aanrandings wat Andrea deurgemaak het, voordat sy vermoor is, sou vergeet.

Sy dogter het destyds, sê haar pa, verskeie aanklagte van aanranding teen Jansen van Vuuren aanhangig gemaak en ’n beskermingsbevel gekry.

Toe hy haar glo selfs nadat die verhouding verbreek is steeds bly agtervolg, het Andrea vanuit Rustenburg na Gauteng gevlug en ’n rekenmeesterspos in Johannesburg aanvaar.

Andrea Venter (24) is in Mei 2011 vermoor. Foto: Verskaf

Daar is vroeër beweer dat Jansen van Vuuren (destyds 30 jaar oud) toe meer as 30 ouditeursfirmas in die Johannesburg-omgewing gebel het om haar op te spoor.

Hy het uitgevind haar adres is in Fourways.

Andrea se moord op 2 Mei 2011 om 05:30 is op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgevang.

“Sy het na die wag by die (woonstelkompleks se hek) gehardloop om hulp.

“Hy (die moordenaar) het haar 12 keer met ’n knipmes in die rug gesteek, toe in elke kuiltjie en haar nekslagaar afgesny,” sê haar pa.

Toe die veiligheidswag probeer ingryp is hy ook glo met die mes gedreig.

Andrea Venter se ouers, Dries en Annatjie, op haar begrafnis. Foto: Felix Dlangamandla

Jansen van Vuuren het hierna glo sy eie keel gesny.

Hy het oorleef en is, nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, vir maande in aanhouding gehou en borgtog geweier.

Toe staan die hooggeregshof in Johannesburg hom borgtog van R15 000 toe.

Hy het vier dae voordat die verhoor in Mei 2013 sou begin, gevlug.

Die volgende jaar is hy in Brasilië gearresteer vir die besit van vervalste identiteitsdokumente en omdat hy ’n polisieman probeer omkoop het. Hy is daar tot vier jaar en vier maande tronkstraf gevonnis.

Hoewel Suid-Afrika ’n uitleweringsaansoek vir die voortvlugtende gebring het, is Jansen van Vuuren verlede jaar uit die Brasiliaanse tronk vrygelaat en het verdwyn.

Die polisie was egter meedoënloos in hul soektog na hom.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder vir Interpol in Suid-Afrika, het vroeër bevestig dat daar steeds ’n lasbrief vir Jansen van Vuuren se arrestasie is en dat hy op Interpol se Rooi Lys van mees gesoektes is.

“Ons het nie ophou soek na die voortvlugtende verdagte nie. Die SAPD-Interpol: Pretoria-buro, die polisie se Ondersoek-sielkunde-afdeling en die Brasiliaanse polisie, veral die in Rio de Janeiro, het inligting bly opgevolg wat uiteindelik tot Donderdag se arrestasie gelei het,” het Naidoo Vrydag bevestig.

Jansen van Vuuren sal nou in aanhouding bly totdat hy uitgelewer kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.