Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Britte het 'n nuwe prinses

Daar is ’n nuwe sprokiesprinses wat die Britte se harte ná Diana se dood gesteel het.

Emma Raducanu, die 18-jarige Britse tennisster, het die wêreld soos ’n vars bries getref met haar oorwinning in die Amerikaanse Ope.

Sy is jonk, spontaan en boonop baie slim. En haar storie – van ’n feitlik onbekende jong tennisspeler tot ’n glanspersoonlikheid in net drie maande – is boonop ’n sprokie soos min.

Sy het Saterdag die eerste kwalifiseerder (teenoor gekeurde) tot nog toe geword (as 150ste vrouespeler in die wêreld) wat ’n Grand Slam-toernooi kon wen.

Emma Raducanu in die Britse ‘Vogue’. Foto: Vogue

Sy was ’n jaar terug nog 343ste op die ranglys. Ná haar oorwinning het sy na die 23ste plek opgeskiet en is sy $2,8 miljoen ryker.

Die meisie, wat drie maande terug nog deur die TV-aanbieder Piers Morgan en gewese tennisspeler en kommentator John McEnroe geboelie is toe sy in die vierde ronde van Wimbledon ná ’n angsaanval die handdoek ingegooi het, kan nou tong uitsteek.

Raducanu het oornag die wêreld se liefling geword. Dit was ’n wonderlike oomblik toe die skare Saterdag vir haar “Sweet Caroline” gesing het.

Die vlae het gewapper. Sy het breed geglimlag, saamgesing en hande geklap.

Sy het haar hele span en veral die gewese Britse tennisspeler Tim Henman uitgesonder vir die hulp met haar voorbereiding. Haar afrigter in Amerika is Andrew Richardson en die man wat haar in een stuk hou, is Will Herbert, die fisioterapeut. Sy noem hom haar mechanic.

Haar lewenstorie is ook deel van die trefkrag van die uitsonderlike verhaal. Raducanu is trots op haar herkoms van verskeie lande en kulture en is daarom ’n groot trefkrag onder mense van oor die wêreld.

Haar Twitter-profiel sê alles oor haar agtergrond: london|toronto|shenyang|bucharest.

Sy is op 13 November 2002 in Toronto, Kanada, gebore.

'n Pragfoto van Emma Raducanu in Chicago in Augustus. Foto: Facebook
Emma Raducano het dié foto op Facebook geplaas van haar fisioterapeut, Will Herbert, wat haar met die Amerikaanse Ope behandel. Foto: Facebook

Haar pa, Ian, is van Boekarest, Roemenië, en haar ma, Renee, van Liaoning, China. Hulle het na Londen verhuis toe sy twee was.

Sy praat Mandaryns vlot en het haar Chinese ondersteuners Saterdag in ’n video in Mandaryns bedank. Sy besoek haar ouma in Boekarest gereeld om aan haar lekker Roemeense kos te smul.

In ’n onlangse artikel oor haar in die Britse Vogue leer ’n mens dat sy ’n A-student in wiskunde en ekonomie aan die Newstead School in Orpington is.

Sy het op vyfjarige ouderdom begin tennis speel, maar haar voorliefde was eers motorfietse. Sy is versot op spoed en volg Formule 1 slaafs.

Sy het onlangs ’n ronde met ’n McClaren-renmotor gejaag en dit op Twitter gedeel.

As peuter en tiener het sy verskeie sportsoorte beoefen, van askarre, veldfietswedrenne, ballet en swem tot basketbal en perdry. Sy het as negejarige by die Bromley-tennisakademie ingeval.

Raducanu is baie gewild op sosiale media. Sy het 1,6 miljoen volgelinge op Instagram.

Sy volg ’n paar bekendes, soos die tennisspeler Maria Sharapova, die renjaers Lewis Hamilton (met 23,8 miljoen volgelinge) en Max Verstappen en Kourtney Kardashian met 142 miljoen volgelinge. Dan volg sy baie nuusagentskappe en kosbladsye.

Emma Raducanu sê vir die skare dankie ná 'n wedstryd in die Amerikaanse Ope. Foto: Facebook
Emma Raducanu is mal oor spoed. Sy het haar merk in sport in Motocross-motorfietswedsrenne gemaak. Hier spog sy in 'n McClaren-renmotor op 'n dag wat Pirelli geborg het. Foto: Twitter
'n Nuwe heldin vir die jeug. Emma Raducanu het die sportwêreld soos 'n storm getref. Haar sprokiesverhaal lok 'n nuwe generasie van tennisliefhebbers. Hier neem sy 'n selfie saam met 'n klomp jong aanhangers. Foto: Twitter

Daar is een baie gelukkige Kapenaar wat kan spog dat Emma Raducanu hom volg. Jacques Saayman is ’n model van Select Model London. Sy wys dat sy nou en dan van sy foto’s hou, soos ’n selfie wat hy op 24 November verlede jaar geneem het.

’n Spesiale vriend in haar lewe? Daaroor is sy tjoepstil en haar sosiale media verklap niks indien daar só ’n persoon is nie. Daar was onlangs gerugte van iets aan die broei tussen haar en Harvey Leigh Cantwell, wat ook bekend staan as Hrvy, ’n sanger, TV-aanbieder en voormalige deelnemer aan die BBC se Strictly Come Dancing.

Dalk is dit tyd vir Saayman om ’n raket op te neem. Of sy ou bakkie vir ’n sportkar in te ruil.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.