Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Groot onsekerheid in Swede ná verkiesing

Swede stuur af op groot politieke onsekerheid ná Sondag se verkiesing. Nie die linkse of regse groeperings het ’n oorgrote meerderheid behaal nie, hoewel steun gegroei het vir die Sweedse Demokrate, wat teen immigrasie gekant is.

Die regse groepering het oor die jare heen, soos wat die angs toegeneem het oor die nasionale identiteit en die gevolge van globalisering en immigrasie, in Europa gegroei.

In Swede het ’n instroming van 163 000 asielsoekers in 2015 – die meeste in Europa met betrekking tot die land se bevolking van tien miljoen – kiesers in een rigting gestuur, en die langdurige politieke konsensus gebreek.

Die tradisioneel linkse Sosiaal-Demokrate, die Groenparty, en hul linkse alliansievennote het 40,6% van die stemme gekry, teenoor die regse groepering wat 40,3% gekry het.

Die Sweedse Demokrate, ’n party met sy wortels in die wit oppermag, het 17,6% gewen, wat ’n verbetering is van die 12,9% in die vorige verkiesing vier jaar gelede.

Jimmie Akesson, leier van die Sweedse Demokrate, meen hy is nietemin ’n wenner in die verkiesing.

“Ons gaan ’n groot invloed hê op wat in die komende weke, maande en jare in Swede gebeur,” het Akesson gesê.

Akesson hoop dat sy party, wat wil hê dat Swede homself uit die Europese Unie moet onttrek en immigrasie tydelik moet stopsit, ’n deurslaggewende rol gaan speel in die onderhandelinge oor die vorming van ’n regering.

Stefan Lofven, die Sweedse premier, aan die woord by 'n verkiesingsvergadering in Stockholm. Foto: Reuters

Die weg na werkende regering?

Daar kan weke van groot onsekerheid heers voordat ’n werkende regering gevorm word.

Ulf Kristersson, hoofopposisieleier en partyleier van die gematig-regse Moderaterna (Gematigdes), wat 19,7% van die stemme behaal het, het ’n beroep op Stefan Lofven, huidige premier en leier van die Sosiaal-Demokrate, gedoen om te bedank.

Lofven se gematig-linkse Sosiaal-Demokrate het met 28,3% van die stemme die grootste party gebly, al het sy steun met drie persentasiepunte gesak. (Daarmee is die steun vir dié party die laagste in meer as ’n eeu.)

Kristersson stel ook nie daarin belang om saam met Akesson om dieselfde tafel te sit nie.

“Ons gaan nie regeer of besprekings voer oor hoe om ’n regering te vorm met die Sweedse Demokrate nie,” het Kristersson gesê.

Die Sweedse Demokrate, wat deur al die ander partye verwerp is sedert hulle in 2010 die parlement betree het, het beloof om enige kabinet te sink wat weier om hulle sê-reg te gee in beleidsbesluite (veral oor immigrasie).

Lofven het gesê hy sal nie bedank nie. Hy het gevra vir veelparty-samewerking om die huidige politieke impasse op te los.

“Niemand is in die meerderheid nie. Dit is net natuurlik om saam te werk ten spyte van die politieke verdeeldheid,” sê Lofven.

Lofven kan aan bewind bly, tensy Kristersson se Moderaterna hulp van die Sweedse Demokrate aanvaar.

Kommer in Brussel

Die verkiesing dra by tot die kommer in Brussel, met dié dat die Europese Unie sy veldtog begin in aanloop tot die Europese parlementêre verkiesing in Mei.

Dit kan meer euroskeptiese partye ’n groter stem gee en die pogings vir nadere EU-integrasie dwarsboom.

Die rekordgetal asielsoekers in 2015 het vrese oor die welsynstelsel in Swede laat toeneem. Baie kiesers glo die welsynstelsel is in ’n krises gedompel, hoewel die aantal asielsoekers sedertdien afgeneem het.

’n Tekort aan dokters en onderwysers, en die polisie se versuim om bendegeweld in die middestad die nekslag toe te dien, het mense in die “Sweedse model”, wat gebou is op die belofte van omvattende welsyn en maatskaplike insluiting, laat twyfel.

Katze Collmar (32), ’n student wat in Stockholm gestem het, het die veldtog as “onplesierig” bestempel.

“Dit voel asof Swede iets gaan doen waarvan ons nie maklik sal kan herstel nie.” – Reuters

Meer oor:  Swede  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.