Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Grootste storm in dekade tref Australië

Meer as 60 000 huishoudings, waarvan die meeste in Perth, is sonder krag gelaat nadat ’n hewige storm Wes-Australië Sondag getref en bome oor ’n gebied van sowat 1 000 km ontwortel het.

Geen beserings is tot dusver aangemeld nie. Die land se inwoners is voor die tyd gewaarsku om hulle voor te berei op die storm, wat as die ergste in ’n dekade bestempel is.

Die Buro vir Meteorologie (BOM) sê dit is die gevolg van twee botsende weerstelsels: ’n Tropiese stelsel ná afloop van die sikloon Mangga en ’n koue front wat uit die suide gekom het, berig BBC.

Die suide van Wes-Australië is veral swaar getref en stofstorms, stormreën en reuse-deinings het aan die kus voorgekom.

’n Stormsterkwind van tot 132 km/h is in gebiede langs kus gemeet, terwyl ’n wind van tot 117 km/h in Perth gewoed het.

Rohan Smith, ’n meteoroloog van BOM, sê ’n baie sterk wind sal Maandag oor groot dele in die suide van Wes-Australië voortwoed, berig ABC News.

“Die wind in die noordweste het nou bedaar maar suidwes van Lancelin tot by Bremer Bay kan ’n wind van 130 km/h verwag word.”

Dit sou teen die middag bedaar.

Winkels in Perth wat Sondag erg deur die storm beskadig is.Foto: Reuters
Motors in een van die paaie in Perth wat oorstroom het. Foto: Reuters

Mense wat aan die kus van Kalbarri tot Augusta woon, is gewaarsku oor gevaarlike stormweer met ’n hooggety wat ver bo die normale sou wees.

Reuse-deinings en oorstromings is voorspel en sommige dele sou na verwagting meer as 70 mm reën kry.

Die land se sikloonseisoen het op 30 April geëindig. BOM sê hoewel siklone wel nog vroeg in Mei kan voorkom, is dit ’n seldsame verskynsel, veral in Wes-Australië, berig 7News.

“’n Soortgelyke storm het in Junie 2012 voorgekom, wat gelei het tot meer as 600 noodoproepe en meer as 170 000 huise was sonder krag.”

Die kragverskaffer Western Power sê Maandag in ’n verklaring sy spanne sal voortgaan om die kragtoevoer te herstel, maar net wanneer dit veilig is. Die kragtoevoer van sowat 15 000 huishoudings in Kalgoorlie is reeds herstel, maar 5 000 huise in Perth is steeds sonder krag.

‘n Man loop Maandag langs die Swanrivier in Perth.Foto: Reuters



Meer oor:  Australië  |  Storm  |  Oorstromings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.