Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Grot oorstroom net-net ná seuns gered is

Enkele ure nadat die laaste van die Thaise sokkerspan en hul afrigter Dinsdagaand uit die Tham Loeang-grot gered is, het die waterpompe wat die reddingswerkers ingespan het, die gees gegee.

’n Skermgreep van die video wat die Thaise regering uitgereik het van die kinders in die hospitaal. Foto: Twitter

Reddingswerkers wat nog in die grot was, moes skarrel om betyds uit te kom nadat die watervlak in die grotstelsel vinnig begin styg het.

Drie Australiese duikers wat in ’n basis in die grotstelsel was, het eers gille gehoor en toe ’n klomp kopligte wat nader kom soos reddingswerkers geskarrel het om na veiligheid te kom. Hulle was nog sowat 1,5 km diep in die grot toe die hoofpomp die gees gee.

Die Australiese duikers het onthul dat die reddingspoging op die nippertjie byna in ’n ramp ontaard het.

The Guardian berig die drie duikers was in die derde grotkamer wat as ’n basis vir die reddingspoging gebruik is.

“ ’n Mens kon net al die kopligte sien wat oor ’n bultjie kom. Die water was op pad. Dit het merkbaar gestyg,” sê een duiker.

Hy het anoniem gepraat omdat hy nie gemagtig is om kommentaar te lewer nie.

Sowat 100 reddingswerkers, asook die dokter en die drie lede van die Thaise spesiale magte wat die seuns die laaste dae in die grot opgepas het, was daarna binne ’n uur uit die grot.

’n Video is intussen deur die Thaise regering uitgereik van agt van die seuns waar hulle in ’n hospitaalsaal van die Tsjiang Rai-hospitaal langs mekaar lê.

’n Skermgreep van ’n video wat deur die Thaise regering beskikbaar gestel is van die reddingspoging. Foto: Twitter

Al die seuns dra mediese maskers en een seun wys ’n vredesteken met sy vingers en maak ook met sy hande ’n dankiesê-gebaar. Mediese personeel versorg die seuns.

Die seuns het elkeen sowat 2 kg verloor terwyl hulle in die grot vasgekeer was.

Reuters berig Narongsak Osottanakorn, hoof van die reddingspoging, het op ’n nuuskonferensie gesê die seuns was net kinders toe hulle in die grot vermis geraak het en niemand kan kwalik geneem word nie.

“Die kinders het nie ’n fout gemaak nie en hulle is ook nie helde nie. Hulle is net kinders wat soos kinders opgetree het – dit was ’n ongeluk,” sê hy.

Die kinders kan tot tien dae in die hospitaal bly, waarna hulle vir nog ’n maand tuis sal moet aansterk.

Die Thaise regering het gevra dat die kinders ruimte en tyd gegun word om te herstel.

Reddingswerkers dra ’n draagbaar met een van die seuns daarop uit die grot. Foto: Twitter

Daar is amptelik hulp aangebied deur Brittanje, Amerika, Japan, Laos, Mianmar, China en Australië.

Een van die duikers, Leandro Nicolas Gerardo, wat in Pinetown (KwaZulu-Natal) skoolgegaan het, is vanuit Suid-Afrika op die skouer geklop vir sy aandeel in die reddingspoging.

The Goodthingsguy berig Gerardo woon nou in Bangkok. Hy is in Argentinië gebore en het in Pinetown grootgeword. Gerardo het van die voorval gehoor en verlof by die werk geneem om as ’n vrywilliger te gaan help. Een van sy skoolvriende van Pinetown Boys High het op Facebook gesê Gerardo was deel van die span wat in grotkamer 3 ’n basis beman het. Die vrywilligers het gehelp om lugsilinders aan te gee en die draagbare te dra waarop die kinders uitgedra is.


Meer oor:  Thailand  |  Reddingspoging  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.