Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Harris maak geskiedenis, Obama vaar uit teenoor Trump

Die Amerikaanse senator Kamala Harris (55) het Woensdag die Demokrate se benoeming as visepresident aanvaar op die derde dag van die party se nasionale kongres.

Harris het geskiedenis gemaak, want sy is die eerste swart vrou en Amerikaner van Asiatiese afkoms wat as visepresident benoem is. Haar ouers was immigrante van onderskeidelik Indië en Jamaica.

Harris het in haar toespraak in ’n konferensiesentrum in die deelstaat Delaware, by Amerikaners, en spesifiek ook swart Amerikaners, gepleit om op 3 November vir Joe Biden (77), die Demokrate se presidentskandidaat, te stem.

Die sentrum was grotendeels leeg weens die Covid-19-pandemie, en die Demokrate se vierdaagse byeenkoms word aanlyn aangebied.

Harris het gepraat in Biden se tuisdorp, Wilmington, en gesê pres. Donald Trump se verdelende leierskap het die land tot by ’n keerpunt gebring.

“Die voortdurende chaos laat ons rigtingloos, die onbevoegdheid laat ons bang voel, die gevoelloosheid laat ons alleen voel. Dit is te veel,” het sy by ’n sentrum in Wilmington gesê.

Harris bring jong bloed in met Biden wat die oudste verkose president sal wees indien hy wen. Sy ouderdom laat mense bespiegeling dat hy slegs een termyn as president sal dien, wat Harris ’n moontlike topaanspraakmaker op die presidentskap in 2024 maak.

Oudpres. Barack Obama onder wie Biden as adjunkpresident van 2009 tot 2017 gedien het, het Trump in ’n toespraak net voor Harris tereggewys. ’n Gewoonlik diplomatiese Obama het gesê Trump gebruik die mag van sy amp slegs om “homself en sy vriende te bevoordeel”.

Obama het gesê dat hy gehoop het dat Trump die pos ernstig sou opneem, die belangrikheid van die Ovaalkantoor sal besef en ’n eerbied vir die Amerikaanse demokrasie sou ontdek.

“Vir byna vier jaar het hy geen belangstelling getoon om die werk te doen nie, geen belangstelling om die presidensie as iets meer as ’n werklikheidsprogram te behandel waardeur hy die aandag kry waarna hy smag nie.”

Obama se uitlatings word ook beskou as buitengewone skerp kritiek deur ’n voormalige president op ’n huidige president.

Intussen het Trump in die laaste helfte van die kongresprogram drie twiets – almal in hoofletters - uitgestuur, waarin hy Harris en Obama gekritiseer het.

Hillary Clinton
Hillary Clinton praat Woensdag via video tydens die virtuele nasionale kongres van die Demokrate. Foto: Reuters

Hillary Clinton, voormalige presidentsvrou en die demokratiese presidentskandidaat wat in 2016 teen Trump verloor het, het aan die kongres gesê sy hoor gedurig van kiesers wat spyt is dat hulle Trump ondersteun het of glad nie gaan stem het nie.

Clinton, wat die meeste stemme in die verkiesing behaal het, maar die kieskollege wat bepaal wie president word verloor het, het gewaarsku dat die geskiedenis homself nie moet herhaal nie.

“Hierdie kan nie nog ’n sou, kon, moes-verkiesing wees nie.”

Sy het benadruk as Biden nie oorweldigend wen nie, kan hy steeds die Withuis verloor.

“Maak nie saak wat nie, stem. Stem asof jul lewe en lewensbestaan daarvan afhang.” – Reuters

Meer oor:  Joe Biden  |  Kamala Harris  |  Politiek  |  Amerikaanse Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.