Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Hawelose vrou sing opera – jy sal jou ore nie glo nie!

Sy het inkopiesakke in haar een hand en met die ander hand trek sy aan ’n trollie wat met ’n kombers bedek is.

Maar as dié hawelose vrou sing staan mense in verwondering.

’n Polisielid in Los Angeles in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië was betower toe hy die vrou met haar twee boksterte in die ondergrondse metro hoor opera sing.

“Vier miljoen mense woon in Los Angeles. Vier miljoen stories. Vier miljoen stemme ... Soms moet jy net stop en na een stem luister om iets pragtig te hoor,” het die Los Angeles-polisie op sosiale media geskryf. Die video van die vrou wat sing is reeds 400 000 keer op Twitter gedeel.

Kara Miller het onderaan die polisie se inskrywing gesê sy sien dié vrou al vir jare by die metro.

“Ek het eendag gehoor hoe sy Ave Maria sing en het eers gedink dit is die radio. Almal het ’n storie ... Dié vrou ook. Ek weet nie hoekom sy al vir soveel jare haweloos is nie, maar sy is ’n mens ... En dís al wat tel.”

@Cielciti sê sy het die vrou al ’n paar keer op die trein gesien en gesien hoe sy voëls kosgee.

“Nooit in ’n miljoen jaar sou ek gedink het sy het só ’n pragtige stem nie.”

ABC News in Amerika het haar opgespoor en het Maandagaand ’n video-onderhoud met haar gevoer.

Dié hawelose vrou is Emily Zamourka (52) van Rusland wat as 24-jarige na Amerika geëmigreer het.

Zamourka, wat ’n pianis was en ook die viool bespeel, sê haar liefde vir musiek hou haar aan die gang nadat die lewe ’n paar moeilike draaie met haar gemaak het.

Emily Zamourka (52) Foto: Skermgreep

“Weet jy hoekom doen ek dit in die ondergrondse metro? Want dit klink net regtig fantasties!” sê Zamourka in die onderhoud.

Sy sê musiek was nog altyd haar groot liefde en die manier hoe sy die pot aan die kook gehou het. Sy het drie jaar gelede op straat beland omdat sy nie haar mediese rekeninge kon betaal nie. Haar viool is gesteel en sy kon nie meer optree nie.

“Ek slaap waar ek kan slaap. Ek slaap in die parkeerterrein. Ek slaap op karton. Daar is mense wat jammer voel vir my, maar ek wil nie vir enigiemand ’n las wees nie,” sê Zamourka.

Sy sê sy is verbaas oor hoe baie mense haar video gesien het en hoop die video verander haar lewe.

“Ek sal so dankbaar wees as iemand my kan help om van die strate af te kom sodat ek weer my eie plek en ’n instrument kan kry.”

Meer oor:  Los Angeles  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.