Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Israel slaan terug, 2 Hamas-hoës dood

Honderde vuurpyle is oornag deur ekstremiste van Hamas en die Palestynse Islamitiese Jihad (PIJ) in die Gasa-strook op Israel afgevuur, en Israel het daarop geantwoord met lugaanvalle.

Die konflik, wat Woensdag tot in die vroeë oggendure voortgeduur het, het die lewe van 35 mense in Gasa en vyf in Israel geëis, berig Reuters.

Die Israeliese weermag sê in ’n verklaring twee senior bevelvoerders van Hamas is in die lugaanvalle dood.

Hassan Kaogi, hoof van Hamas se militêre intelligensie, en sy adjunk, Wail Issa, wat die hoof van die teenspioenasie-departement was, is in een van die aanvalle deur Israeliese vegvlieëniers dood.

israel twiet

Dit is die mees intense geweld tussen die strydende partye in die Gasa-strook in jare.

Die Palestynse militante groep Hamas sê hy het 130 vuurpyle afgeskiet. Tel Aviv en Beersheba is geteiken.

CNN berig sirenes het om 03:00 plaaslike tyd in Tel Aviv begin loei om inwoners te waarsku.

In die lugaanvalle wat Israel daarna uitgevoer het, is ’n woonstelgebou van 13 verdiepings in Gasa vernietig.

Dit is die grootste konflik in die strook sedert 2019 en is die gevolg van Palestyne in Israel wat meen hulle word daar uitgedryf.

Daar heers reeds weke lank hoogspanning in Israel en dit kom te midde van die viering van Jerusalemdag, ’n dag wat die verkryging van Israeliese beheer oor die Ou Stad in die Sesdaagse Oorlog van 1967 herdenk.

Die geweld het begin met konfrontasies by die Al-Aqsa-moskee in die hart van die Ou Stad van Jerusalem – die sensitiefste ligging in die konflik tussen Israel en Palestina.

Volgens Reuters het geweld intussen in talle dorpe waar Jode en Arabiere in Israel woon, uitgebreek.

Rook hang oor Gasa ná Israel se lugaanvalle oornag. Foto: Reuters

Benjamin Netanyahu, premier, het ’n noodtoestand in Lod, naby Tel Aviv, afgekondig nadat berigte ontvang is dat Arabiere ’n sinagoge aan die brand gesteek het, en Jode ’n motor wat deur ’n Arabier bestuur is, met klippe gepeper het.

Yair Revivo, die burgemeester van Lod, het aan Channel 12 News gesê hulle het beheer oor die stad en die strate verloor, terwyl daar gesien kon word hoe vullisdromme omgegooi en aan die brand gesteek word, berig Reuters.

Veiligheidsmagte sê hulle het intussen 16 grenspolisielede na Lod gestuur sodat hulle kan ingryp.

Die polisie het talle mense oornag in Lod, sowel as ander dorpe waar Arabiere die meerderheid is, in hegtenis geneem.

In Jaffa, naby Tel Aviv, was Arabiese betogers in skermutselings met die polisie betrokke.

Die media in Israel berig ’n bekende viswinkel, wat deur Jode in die dorp Acre besit word, is ook aan die brand gesteek.

’n Hamas-woordvoerder het intussen Arabiese burgers in Israel aangemoedig om teen Israel op te staan.

Baie Palestyne het in Israel aangebly nadat die land in 1948 onafhanklikheid verkry het.

Die meeste Arabiere wat in Israel woon, is tweetalig en praat Arabies en Hebreeus, en meen daar word teen hulle gediskrimineer wat behuising, gesondheidsorg en onderwys betref.

Meer oor:  Palestina  |  Israel  |  Gasa-Konflik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.