Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Kelnerin se briefie red mishandelde seun (11)

“Dit was marteling.”

Dit is hoe ’n speurder van die Amerikaanse deelstaat Florida die mishandeling van ’n 11-jarige seun beskryf het, nadat hy uit die greep van sy stiefpa gered is deur ’n kelnerin wat die kind se beserings opgemerk het.

“Het jy hulp nodig?” het Flaviane Carvalho, die restaurantbestuurder wat op Nuwejaarsdag as kelnerin gewerk het, op ’n stuk papier geskryf en dit aan die seun gewys sonder dat die man en vrou aan die tafel dit kon sien.

Dit het drie probeerslae gevat, maar die kind het uiteindelik aangedui die antwoord is “ja”.

Carvalho het in ’n videoverklaring wat deur die polisie in Orlando uitgereik is, vertel wat presies gebeur het.

Sy het die gesin die aand in die restaurant bedien toe sy die beserings aan die seun se gesig opmerk en hulle begin dophou het.

“Die kind het nie gepraat nie en het ongelukkig gelyk. Hulle het ook nie vir hom kos bestel nie.”

Sy het die briefie geskryf en nadat die kind ja geantwoord het, het Carvalho die polisie ontbied, wat kort daarna, net voor middernag, by die restaurant aangekom het.

Nadat hy aanvanklik aan die polisie gesê het hy het per ongeluk seergekry, het hy uiteindelik vertel hoe hy aan sy enkels opgehang is. Hy is ook geboei en met ’n besem en die vuis geslaan.

Hy is na ’n hospitaal geneem, waar dit duidelik was dat hy al vir ’n geruime tyd mishandel word, het Erin Lawner, die ondersoekbeampte volgens The Sentinel, gesê.

“Mishandeling? Dit was marteling.”

Orlando Rolón, Orlando se polisiehoof, glo die kind sou uiteindelik doodgemaak word.

“Dit is hoe erg sy beserings was. Dit is hoe skrikwekkend die mishandeling was wat die kind beskryf het.”

Timothy Wilson II (34), die seun se stiefpa, is dieselfde aand nog in hegtenis geneem op twee aanklagte van kindermishandeling. Die kind se ma, Kristen Swann (31), sê sy het van die misdade teen die kind geweet, maar nie hulp gekry nie. Sy is vyf dae later in hegtenis geneem op aanklag van kinderverwaarlosing.

Die seun se vierjarige suster is nie mishandel nie, maar sy is ook uit haar ma se sorg verwyder, berig The Sentinel.

Meer oor:  Florida  |  Amerika  |  Kindermishandeling  |  Misdaad  |  Kelnerin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.