Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Maandag die dokumente vir oudpres. Donald Trump se staat van beskuldiging aan die Amerikaanse senaat oorhandig.
Die huis beskuldig Trump daarvan dat hy agter die aanval op die Amerikaanse kongresgebou was nadat talle van sy ondersteuners die kongresgebou op 6 Januarie bestorm het om die bevestiging van Joe Biden as president te probeer keer.
’n Verhoor om Trump skuldig of onskuldig te bevind sal moontlik op 9 Februarie in die senaat begin.
Nege Demokrate, die griffier en waarnemende stafdraer het Maandag deur die kongresgebou geloop om die dokumente na die senaat te neem.
Dié prosessie het met maskers deur die einste gebou geloop wat aan die begin van die maand in chaos gedompel is toe betogers die kongresgebou oorgeneem en met die polisie slaags geraak het.
Vyf mense is in hierdie gewelddadige betoging dood.
Jamie Raskin, hoof van die huis van verteenwoordigers, wat aan die voorpunt van Trump se staat van beskuldiging staan, het die klag in die senaat uitgelees.
“Donald John Trump het hom aan ernstige en minder ernstige misdade skuldig gemaak deur geweld teen die regering van Amerika aan te hits.”
Hoewel tien Republikeine saam met die Demokrate op 13 Januarie gestem het om Trump in ’n staat van beskuldiging te stel, sal die Demokrate die ondersteuning van minstens 17 Republikeine in die senaat benodig om Trump skuldig te bevind.
Biden het Maandag aan CNN gesê hy dink nie daar sal genoeg stemme wees om Trump skuldig te bevind nie.
Trump is die eerste president in die Amerikaanse geskiedenis wat twee keer in ’n staat van beskuldiging gestel is. – Reuters