Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: ‘Laaste ete’ oor Brexit ‘verloop sleg’

Die ete Woensdagaand in Brussel waarop die laaste hoop gevestig is om ’n handelsooreenkoms te beding voordat Brittanje die Europese Unie (EU) verlaat, “het eenvoudig sleg verloop”.

Boris Johnson, Britse premier, en Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het volgens ’n bron in 10 Downing Street “reguit gepraat” en albei meen daar is steeds “baie groot gapings” tussen die twee partye en dat dit onseker is of dit oorbrug sal kan word.

Laura Kuenssberg, politieke redakteur van die BBC, meen die aand het “eenvoudig sleg verloop” en die moontlikheid dat Brittanje die EU op 1 Januarie 2021 sal verlaat sonder ’n behoorlike ooreenkoms, “is ’n groot stap nader”.

Die twee het ingestem tot verdere samesprekings tussen hul onderhandelingspanne oor die volgende dae.

Boris Johnson, Britse premier, en Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, haal Woensdag vlugtig hul maskers af op die fotogeleentheid voordat hulle in Brussel oor aandete vergader het. Foto: Reuters

Volgens die bron wil Johnson elke moontlike opsie ondersoek. “Die premier en die president van die Europese Kommissie het ooreengekom dat ’n ferm besluit teen Sondag geneem moet word oor die toekoms van die gesprekke.”

Gesprekke tussen lord David Frost, Brittanje se hoofonderhandelaar, en sy EU-eweknie, Michel Barnier, duur voort in Brussel, maar Dominic Raab, Britse minister van buitelandse sake, sê dis “onwaarskynlik” dat dit ná Sondag voortgesit sal word.

Dié twee onderhandelaars het ook die ete Woensdagaand, wat drie uur lank geduur het, bygewoon.

Daar is steeds groot meningsverskille oor visvangregte, mededingingsreëls en hoe ’n ooreenkoms gepolisieer sal word.

Die ete is beskou as die laaste kans om gemeenskaplike terrein te vind.

Enige ooreenkoms moet deur die Europese en die Britse parlement aanvaar word. Die Britse laerhuis beplan om van 21 Desember vir die feestyd in reses te gaan, maar dit kan uitgestel word weens Brexit.

EU-bronne het aan The Guardian gesê die EU gaan “baie binnekort” gebeurlikheidsplanne aankondig vir die moontlikheid van ’n ooreenkomslose Brexit.

Die gebeurlikheidsplanne moet verseker dat grense funksioneer.

Die 27 staatshoofde van EU-lidlande vergader Donderdag en Vrydag, waar Von der Leyen hulle na verwagting sal inlig oor die gesprek met Johnson.

Brittanje wil nie ’n ooreenkoms aanvaar waarin hy deur EU-reëls beperk word nie.

- Reuters, BBC, The Guardian, CNN

Maskers af?

Boris Johnson, Britse premier, en Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het voor die ete vir foto’s geposeer.

Johnson het gesê-vra: “Maskers af, Ursula?” waarop hulle vlugtig hul maskers afgehaal het.

Sy het hom daaraan herinner dat hulle ’n veilige afstand van mekaar moet handhaaf, waarop Johnson vinnig van haar af weggetree het.

Von der Leyen het haar masker vinnig weer aangesit. “Ons moet dit weer aansit. Jy moet dit onmiddellik weer aansit,” het sy aan hom gesê.

Waarop hy geantwoord het: “Jy hou die leisels styf vas, Ursula, soos dit moet wees.”


Meer oor:  Brexit  |  Ursula Von Der Leyen  |  Boris John­Son  |  Brittanje  |  Eu  |  Brussel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.