Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: May dalk Brexitloos uit haar pos

Theresa May se laaste ernstige nuwe Brexit-ooreenkoms waarmee sy suksesvol uit haar pos as premier wou stap, is reeds deur parlementariërs uit haar eie Konserwatiewe Party, sowel as die Arbeidersparty, afgekeur nog voordat daar gestem is.

Die Britse eerste minister, Theresa May. Foto: Reuters
Een van die eerste mense wat sy teenkanting teen die nuwe plan gelug het, is Boris Johnson, die oudminister wat nou sy oog op die premierskap het. In die laaste stemming het hy nog ja gestem, maar nou gaan hy nee stem.

“Ons kan en ons moet beter doen en aan die mense gee wat hulle wil hê,” het Johnson volgens die

BBC gesê.

May het die nuwe tienpuntplan wat ná onderhandelinge met die Arbeidersparty opgestel is, Dinsdag bekend gemaak, berig

The Guardian. Die twee grootste toegewings aan die Arbeiders is dat Brittanje tydelik in die Europese handelsverdrag sal bly en dat ’n tweede bindende referendum gehou kan word, sou die ooreenkoms aanvaar word.

In ’n stormagtige kabinetsvergadering is die voorstel van ’n tweede referendum met dreigemente van ’n opstand begroet. Binne ure daarna het meer as 20 lede reeds gesê hulle gaan hul ja-stem vir die ooreenkoms in ’n nee-stem verander.

Jeremy Corbyn van die Arbeiders het ook aangekondig dat hy nie die plan sal steun nie. Al is daar toegewings vir hom en sy party in die nuwe ooreenkoms is dit volgens hom “nie genoeg nie”.

’n Nederlaag van groter omvang as die vorige drie word nou reeds vir May se nuwe plan voorspel. Sy het met die aankondiging gesê sy het na kommer van oor die hele politieke spektrum geluister “en ek het alles gedoen wat ek kon om dit te hanteer”.

“Vandag bied ek julle ’n ernstige nuwe Brexit-ooreenkoms aan.”

Sy waarsku dat sou die Brexit-dooiepunt voortduur, “die gevaar bestaan dat die deur oopgemaak na ’n nagmerrietoekoms van permanent verdeelde politiek gaan word”.

Die Konserwatiewe Party gaan na verwagting Donderdag in die Europese parlementsverkiesing ’n drag slae van Nigel Farage se Brexit-party op die lyf loop.

“Kyk na die wêreld en dink aan die toestand waarin liberale demokratiese politiek is. Kyk dan na Brittanje en dink oor die uitwerking wat dit sal hê as ons nie kan doen wat die mense van Brittanje in ’n wettige referendum gevra het nie,” sê May.

Vandag bied ek julle ’n ernstige nuwe Brexit-ooreenkoms aan.

Reuters berig dat Leo Varadkar, Ierse premier, sê die nuwe ooreenkoms is vir Ierland aanvaarbaar.

“Die hele plan is nog nie bekend gemaak nie so ons kan nog nie ’n formele mening gee nie, maar uit wat ek tot dusver gehoor het, dink ek dit is oukei en aanvaarbaar.”

Die algemene teenstand teen die nuwe ooreenkoms is so erg dat daar diegene is wat twyfel of dit ooit aan die parlement voorgelê sal word.

Die BBC beskryf die soeke na ’n ooreenkoms as ’n “pynlike ritueel waarin die premier ’n visie vir Brexit onthul en die lede van die parlement dan in toue staan om dit te vermorsel”.

Daar is ook volgens die BBC heelwat wat voel dat May vroeër moet bedank as wat sy gesê het sy sal. Daar is ander wat sê sy het alle gesag as premier verloor nadat sy aangebied het om te bedank.

Meer oor:  Theresa May  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.