Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Meer as ’n miljoen ontruim weens orkaan in VSA

Meer as ’n miljoen inwoners aan die suidoostelike kus van Amerika het Dinsdagoggend noodgedwonge hul huise ontruim nadat die orkaan Florence as ’n kategorie-5 storm geklassifiseer is.

Die Amerikaanse Nasionale Orkaansentrum het gewaarsku dat die orkaan, met sy kragtige winde van tot 225 km/h lewensbedreigende stortreën en grootskaalse oorstromings kan veroorsaak.

Florence is sedert Maandag reeds twee keer opgegradeer. Inwoners in veral die kusgebiede by Virginië, asook Noord- en Suid-Carolina moes ontruim.

Na verwagting beweeg die orkaan teen Donderdagaand na die kus van Noord- en Suid-Carolina. Die wind gaan ook oor ’n groter gebied uitbrei wat die storm gaan vererger luidens ’n verklaring wat deur die sentrum uitgereik is.

Nadat inwoners gehoor het hulle moet ontruim, het hulle hul na petrolstasies gehaas waar lang rye naderhand gevorm het. Ysterwarewinkels en supermarkte is ook bykans leeg gekoop. Veral voorraad van melk, water, brood, batterye, hout, flitsligte, propaangas, vyfliter-gashouers en kragopwekkers is uitverkoop.

Die weermag is ook in die geraakte gebiede ontplooi en pres. Donald Trump het ’n nasionale noodtoestand in Suid-Carolina afgekondig om noodfondse te kan bekom, berig CNN.

Henry McMaster, Suid-Carolina se goewerneur, sê hulle weet die ontruiming gaan vir baie mense ongemaklik wees, maar hulle wil nie die lewe van ’n enkele inwoner in gedrang bring nie.

McMaster het aan The Washington Post gesê die kantore van alle staatsdepartemente, insluitend skole en mediese sentrums, in altesaam 26 distrikte sal gesluit bly.

Ralph Northam, goewerneur van Virginië, sê ongeveer 245 000 inwoners in dele van die Hampton Roads-gebied tot by die oostelike kuslyn moet ontruim.

“Almal in Virginië moet hulself voorberei. Dit is ’n ernstige storm en dit gaan die hele staat van Virginië raak.”

In Noord-Carolina sê Roy Cooper, die goewerneur, inwoners en toeriste op die eiland Hatteras sowel as die hele kusgebied sal moet ontruim, berig The New York Times.

Altesaam 17 skole gaan hier gesluit wees.

“Die voorspellings plaas Noord-Carolina in die middelpunt van die orkaan Florence.

“Wanneer die weervoorspellers laat weet dat die orkaan tot lewensverliese kan lei, dan jy weet dit is ernstig,” sê Cooper.

Tneah Brown, ’n inwoner van Myrtle-strand, Suid-Carolina, sê die ontruiming is moeilik. Sy weet nie of haar suster en dié se drie week oue baba, haar pitbull Kaya of haar ma-hulle by haar gaan aansluit nie.

Lisa Presgraves (48), ’n kroegdame by ’n restaurant in Kill Devil Hills, Noord-Carolina, sê sy maak gereed om die storm te trotseer.

Sy sê hoewel sy ook deel is van die mense wat moet ontruim, is dit te moeilik vir haar.

Leë kosrakke kan gesien word soos mense voorberei voordat die orkaan Florence tref. Foto: Reuters

“Dit gaan sleg wees vir my om te moet ontruim. Ek het ’n hond en dit is nie finansieel vir my moontlik om net op te pak en ’n hotelkamer te kry nie. Om tuis te bly gaan beslis nie ’n partytjie wees nie.”

Staatsamptenare aan die suidoostelike kus sê hulle werk nou saam met afgevaardigdes van die federale noodbestuuragentskap (Fema) om vir die orkaan voor te berei.

Die moontlikheid dat federale hulp ná afloop van die orkaan benodig gaan word, word ook bespreek.

Fema het die afgelope jaar gesukkel om op talle rampe te reageer, soos wegholbrande en meer as een orkaan wat in Augustus en September verlede jaar getref het.

Chris Currie, direkteur van die regering se aanspreeklikheidskantoor, sê Fema was “totaal en al oorweldig” toe die orkaan Maria verlede jaar in September Puerto Rico getref het.

“Toe Maria tref, was hul personeel en ander kommoditeite en hulpbronne so te sê uitgeput,” sê Currie.

Trump, wat hewige kritiek ontvang het vir die manier waarop hy tydens orkaan Maria gereageer het, sê in ’n reeks twiets hy en sy administrasie is gereed vir die storm.

Meer oor:  Vsa  |  Orkaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.