’n Paartjie is van ’n American Airlines-vliegtuig afgegooi nadat die vrou die man uitgeskel het en hom aangerand het.
’n Passasier het die hele drama op video vasgelê.
Julia Scorupco, wat ook op die vlug was en die video in die hande gekry het, het dit op Twitter en YouTube gedeel.
Sy skryf die voorval het op ’n vlug van American Airlines wat op 21 Julie onderweg was van Miami na Los Angeles gebeur.
Uit wat die vrou haar kêrel in gekruide taal toesnou het hy blykbaar na ’n ander vrou gekyk. Sy skel hom uit waar hulle in hul sitplekke voor opstyging sit.
Na ’n langdurige geskree, raai die kajuitpersoneel die man aan om op te staan. Die vrou agtervolg hom en slaan hom eers met ’n skootrekenaar van agter oor die kop en dan met haar vuis.
“Sy het heelwat kwaadwillige en rassistiese goed teenoor die man kwytgeraak oor hoe hy grootgemaak is, sy agtergrond en sy herkoms wat nie opgeneem is nie, so dit was moeilik om te aanskou (veral omdat daar so baie kinders aan boord was),” het Scorupco onderaan die video geskryf.

Die vrou loop agter die man aan terwyl hy die vliegtuig verlaat. Foto: Skermgreep

Die vrou kom terug om ’n tas uit die bagasieruim te haal voordat sy die vliegtuig verlaat. Foto: Skermgreep
’n Kajuitpersoneellid en ’n passasier is tydens die voorval lig beseer.
Die vlug is uiteindelik met twee uur vertraag nadat die personeellid huis toe gestuur is.
Volgens Scorupco het ’n ander passasier glo gesê sy het die paartjie reeds in die lughawegebou sien baklei. Scorupco sê sy verneem die vrou is in hegtenis geneem toe sy afgeklim het, maar het dit nie self gesien nie.
“Almal was ontsenu, maar ons was dankbaar dat dit gebeur het voordat die vliegtuig opgestyg het en nie in die lug nie. Die lugredery het die voorval goed hanteer en albei mense vinnig van die vlug verwyder. Hoewel ons gratis alkohol sou waardeer het nadat ons so ’n situasie aanskou het!” skryf Scorupco.