Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Nawalni ‘fyn dopgehou’ voor siekte

Aleksei Nawalni, ’n baie uitgesproke kritikus van die Kremlin, is in die dae voordat hy glo vergiftig is, deur die polisie dopgehou.

Hy het Donderdag op ’n vlug na Siberië ineengestort

Offisiere in gewone klere het hom op kringtelevisie fyn dopgehou, het Moskowski Komsomolets berig.

Die Russiese poniekoerant het wetstoepassingsbronne aangehaal.

Nawalni (44), wat al lank ’n teenstander van pres. Wladimir Poetin en kampvegter teen korrupsie is, is Saterdag per lug­ambulans na Duitsland gevlieg waar hy behandeling kry.

Hy was in ’n geïnduseerde koma toe hy uit die Siberiese stad Omsk verwyder is, maar daar was nog geen inligting bekend oor sy toestand waar hy in die Charite-hospitaal in Berlyn behandel word nie.

Sy span sou Sondagaand ’n kort inligtingsessie gehou het om “alles wat ons van Aleksei se vergiftiging weet, te bespreek”, maar dit is later gekanselleer omdat hulle nog nie gereed was nie, het die mediasekretaris, Kira Djarmisj, en die hoof van die veldtoghoofkantoor, Leonid Wolkof, op Twitter geskryf.

Die Moskowski Komsomolets het die veiligheidsdiens aangehaal wat die tydlyn van sy reis beskryf het voordat hy siek geword het.

Aleksei Nawalni in die Siberiese stad Omsk in Rusland, op ’n draagbaar. Hy is per ambulans na ’n lughawe geneem en na Duitsland gevlieg waar hy ondersoek en behandel word. Foto: Reuters

Sy span het ’n paar kamers in ’n plaaslike hotel bespreek en Nawalni het besluit om nie in die kamer te slaap wat vir hom bespreek is nie.

Die polisie het ’n woonstel ontdek wat een van Nawalni se ondersteuners vir hom bespreek het toe ’n soesji-wegneemete bestel is vir aflewering deur een van sy ondersteuners by dié adres.

“Die omvang van die dophouery is nie vir my ’n verrassing nie. Ons was voorheen al baie bewus daarvan,” het Djarmisj getwiet.

“Wat egter verrassend is, is dat (bronne in die veiligheidsdiens) nie gehuiwer het om dit te beskryf nie.”

Veiligheidsbronne het volgens Moskowski Komsomolets se berig gesê die waarneming van Nawalni se bewegings het geen verdagte kontakte getoon wat met sy siekte verband kan hou nie.

Die veiligheidsdienste glo dat indien Nawalni vergiftig is, het dit op die lughawe of in die vliegtuig plaasgevind, het die koerant berig.

Luidens die berig word daar nog gewag op die uitslae van laboratoriumtoetse van monsters wat die polisie geneem het van die plekke waar Nawalni en sy span op hul reis was, insluitend lugmonsters.

Aleksei Nawalni Foto: Getty Images

Aanvanklike uitslae word vandag verwag en die uitslae van die toetse vir radioaktiewe materiaal later die week, het die koerant berig.

Daar is nie gesê of dit bekend gemaak sal word nie.

Dokters by die hospitaal in Omsk waar Nawalni behandel is voordat hy na Duitsland gebring is, het gesê hulle glo nie hy is vergiftig nie. Die diagnose was dat hy dalk weens lae bloedsuikervlakke ’n metaboliese siekte het.

Dimitri Peskof, die Kremlin se woordvoerder, het Vrydag gesê dit is onduidelik wat Nawalni se siekte veroorsaak het.

Hy het voorheen gesê vergiftiging sal met laboratoriumtoetse bevestig moet word en dat dokters alles moontlik doen om hom te help.– Reuters

Meer oor:  Aleksei Nawalni  |  Rusland  |  Vergiftig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.