In wat as 'n moontlike terreuraanval beskryf word, het 'n aanvaller met 'n mes mense Donderdagoggend by 'n kerk in Frankryk doodgemaak.
Minsens drie mense is dood, en talle ander is gewond in die aanval by 'n kerk in Nice. Christian Estrosi, die stad se burgemeester, het dit as 'n terreurdaad bestempel.
Estrosi het op Twitter beskryf wat gebeur het, en gesê dit het in of naby die stad se Notre Dame-kerk gebeur.
Die polisie het die aanvaller aangekeer.
Die polisie het bevestig drie mense is in die aanval dood.
Frankryk steier nog nadat Samuel Paty, 'n onderwyser, vroeër vandeesmaand onthoof is.
Paty se 18-jarige aanvaller, wat van Tsjetsjniese oorsprong is, het gesê hy wou Paty straf omdat hy spotprente van die profeet Mohammed in die klaskamer tydens 'n les gebruik het.
Moslems beskou die karikature as godslasterlik en in sommige Moslem-lande word Franse leiers daarvan beskuldig dat hulle anti-Islam is.
Dit is nie tans duidelik wat die motief vir vanoggend se aanval in Nice was nie, en of daar 'n verbintenis met die spotprent-kwessie is nie.
Die Franse regering staan op die reg van sy burgers om die spotprente ten toon te stel, en dit is in optogte gebruik om solidariteit met Paty te betoon. – Reuters

Christian Estrosi, burgemeester van Nice, op die toneel van Donderdagoggend se mesaanval. Foto: Reuters