Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Video van Christchurch-skieter oomblikke voor aanval

16:21

Pres. Cyril Ramaphosa het ook sy medelye uitgespreek. Lees hier.

 

13:26

Videos wek kommer

'n Video van die aanval wat deur die verdagte in die Christchurch-aanvalle gemaak is terwyl hy die aanval by die Deanslaan-moskee uitgevoer het, het steeds op Twitter en Facebook gesirkuleer, al is die oorspronklike regstreekse beeldsending daarvan deur Facebook verwyder.

Hieronder is 'n kort video van die oomblikke voor die aanval waar die skieter sy motor stop en uitklim.

Die polisie het nog nie die verdagte, wat formeel van moord aangekla is, se naam bekend gemaak nie.

Die vermeende skieter het 'n manifes op Twitter gepubliseer onder die naam Brenton Tarrant waarin hy sy redes vir die aanval uiteensit.

Die manifes is 73 bladsye lank, berig news.com.au. Daarin beskryf hy homself as "'n gewone wit man".


13:08

Reaksie in Suid-Afrika 

Die Suid-Afrikaanse Moslem Juridiese Raad (MJC) het hom Vrydag skerp uitgespreek teen die geweld op plekke van aanbidding nadat gewapendes op twee moskees in Nieu-Seeland losgebrand het.

Minstens 49 mense is dood en verskeie ander is gewond in wat wêreldwyd as ’n terreuraanval beskou word.

“Ons gebede gaan uit na die slagoffers en hul families wat deur die skietery geraak word,” sê sjeik Irafaan Abrahams, president van die MJC.

Die MJC sê leiers wêreldwyd moet veel meer doen om Islamofobie en dade van haat en terreur te bekamp.

Volgens die raad sluit dit in uitdagende en verdelende uitsprake, wat ook tot ’n toename in Islamofobie en rassisme kan bydra.

Lees die volledige berig: SA Moslem- en Joodse raad veroordeel terreur-aanval


12:58

Een beskuldigde aangekla

Mike Bush, Nieu-Seeland se polisiekommissaris, het op 'n nuuskonferensie bevestig 'n man is van moord aangekla, en verskyn Saterdagoggend (plaaslike tyd) in die hof.

Daar is drie ander verdagtes wat in aanhouding is. Volgens Bush was een waarskynlik nie betrokke nie, terwyl die ander twee se betrokkenheid nog ondersoek word.


12:05

KYK: 'Nooit het ek gedink ek sal so iets sien'

“Ek het oral dooie mense gesien,” sê Len Peneha, ’n ooggetuie van die skietvoorval Vrydagmiddag (Nieu-Seeland se tyd) by die Al Noor-moskee in Christchurch. Altesaam 49 mense het gesterf in die skietery in twee moskees in die stad, en vier mense is in hegtenis geneem.

“Daar was drie lyke by die ingang, by die voordeur van die moskee en ook lyke in die moskee. Dit is ongelooflik bisar. Ek verstaan nie hoe enigiemand dit aan hierdie mense kan doen nie,” sê hy.

Nog ’n ooggetuie, wat net as Nour bekend wil staan, sê die geweerskote “het soos plof, plof, plof geklink. Ek het meer as 50 gehoor”.

Hy het aan die Christchurch Star vertel hoe hy na veiligheid gekruip het nadat hy heel voor in die moskee was toe die gewapende man die gebou binnegekom het.

“Ek het hom drie keer hoor herlaai. Ek het mense voor my sien dood neerval, ek het weggekruip en deur ’n stukkende venster buitentoe gevlug.”

’n Man, net bekend as Ramzan, sê die Al Noor-moskee was vreedsaam, kalm en stil. “Soos altyd wanneer die preek begin, kon jy ’n speld hoor val.” Toe begin die geweervuur.

“Dit het in die hoofvertrek begin, ek was in ’n sykamer. Ek kon nie sien wie skiet nie, maar mense het ingehardloop gekom in die vertrek waar ek was. Sommige van hulle was bebloed en ander het mank geloop. Dit was toe dat ek besef het dat dinge regtig ernstig is,” sê Ramzan, wat in ’n rolstoel is, luidens The Guardian.

Volgens Stuff.co.nz het ’n ooggetuie, Syed Ahmed, ’n man gesien met ’n swart motorfietshelmet en in kamoefleerdrag wat ’n swart geweer gehad het waarop in wit geskryf is. Hy het gesien hoe die man rond en bont skiet terwyl hy nog buite die moskee was.

Volgens Ahmed is ouer mense wat op stoele gesit het, eerste geskiet. “Hulle is omtrent almal geskiet.”

Mohan Ibrahim het aan die New Zealand Herald gesê hy het vir sy lewe gevlug. “Eers het ons gedink dit is elektriese skokke, maar toe begin mense hardloop.”

Christchurch-aanvalle, terreur
'n Skermgreep van 'n video van die skietery wat glo deur die skieter geneem is en regstreeks op Facebook uitgesaai is. Foto: Reuters

Die skieter het 17 minute lank alles wat hy gedoen het regstreeks op Facebook gebeeldsend. Die opname is intussen verwyder en die polisie het die publiek gevra om dit nie verder te versprei nie.

'n Vrou wat naby die moskee verbygery het, het aan die BBC vertel hoe sy eers gedink het sy hoor vuurwerke, maar toe sien sy die mense val.

In 'n hartverskeurende onderhoud vertel sy hoe sy 'n gewonde man in haar kar ingesleep het en die bloed probeer van sy skietwond probeer stop het. 

"Ek is 66 en het nooit in my lewe gedink ek sal so iets sien nie. Nie in Nieu-Seeland nie."

Meer oor:  Christchurch-Aanvalle  |  Terreur  |  Nieu-Seeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.