Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Nuwe aborsiewet in VSA ‘oorlog op vroue’

Die Amerikaanse deelstaat Alabama het wetgewing oor aborsie aanvaar waarvolgens bykans alle aborsies – selfs in gevalle van verkragting en bloedskande – onwettig verklaar is.

Dit is die jongste oorwinning van konserwatiewes oor die uitspraak van die hoogste hof in Amerika wat vroue se reg op aborsie daargestel het.

Pro-choice supporters protest in front of the Alab
Betogers voor die Alabama-staatshuis. Talle mense wat aborsies ondersteun het hier saamgedrom om een van die strengste wetgewings wat aborsies onwettig en selfs strafbaar verklaar, teen te staan. Foto: Reuters

Dit volg op besluite in Georgia, Kentucky, Mississippi en Ohio om aborsie te verbied sodra ’n dokter ’n hartklop kan bespeur. Kritici beskryf die “hartklopwet” as ’n virtuele verbod omdat hartaktiwiteit so vroeg as op ses weke al bespeur kan word. Teen daardie tyd weet baie vroue nog nie eens dat hulle swanger is nie.

Kay Ivey, Republikeinse goewerneur van Alabama, het die wetgewing onderteken ’n dag nadat die Republikeins oorheersde senaat dit goedgekeur het. ’n Wysiging van die Demokratiese Party-lede in die senaat dat aborsies in die gevalle van verkragting en bloedskande toegelaat moet word, is verwerp.

“Vir die wet se ondersteuners staan dit as ’n kragtige getuienis tot die mense van Alabama se diepe geloof dat elke lewe waardevol is en dat elke lewe ’n heilige geskenk van God is,” sê Ivey in ’n verklaring.

Ingevolge die wetgewing van Alabama word die vrou nie verantwoordelik gehou nie, maar die persoon wat die aborsie doen. Oortredings is strafbaar met tronkstraf van tot 99 jaar.

Aborsie is in Amerika toegelaat ná die uitspraak in ’n hofgeding in 1973 wat bekend is as Roe v. Wade.

Aktiviste vir aborsieregte het reeds aangedui dat hulle hof toe gaan om die toepassing van die Alabama-wetgewing te stop. Die wet tree oor ses maande in werking.

Ondersteuners van die Alabama-wetgewing sê die reg op die fetus se lewe oorheers alle ander regte, ’n beginsel wat hulle graag in die hoogste hof sal wil laat toets.

Die probleem is dat die hoogste hof in die land nou ’n oorgewig aan konserwatiewe regters het weens die aanstelling van twee konserwatiewes deur pres. Donald Trump. Die beslissing in Roe v. Wade kan dus omgegooi word. In dié saak is vroue se reg tot privaatheid beskerm, wat insluit haar reg tot ’n aborsie.

In die uitspraak is deelstate wel toegelaat om beperkings daarop te plaas vandat die fetus lewensvatbaar is. Daar word gereken ’n fetus is op 22 tot 24 weke lewensvatbaar.

“Hierdie is ’n oorlog teen vroue,” sê Gavin Newsom, die Demokratiese goewerneur van Kalifornië.

Die wet bring ook die emosionele debat oor aborsie weer op die voorgrond van die nasionale politiek terwyl die land op pad is na 2020 se presidensiële verkiesing.

Die meeste kandidate wat gekies wil word om die Demokratiese Party se presidentskandidaat te word, het die Alabama-wetgewing veroordeel en gesê dit is ’n aanval op vroueregte.

Sen. Kamala Harris van Kalifornië, een van die kandidate, het Woensdag in Nashua, New Hampshire, gesê: “Die idee dat sogenaamde leiers ’n wet aanvaar het wat ’n dokter ’n misdadiger sal maak as hy ’n vrou help om te doen wat sy en haar dokter, sy en haar God, sy en haar godsdiensleier besluit het om te doen, dan kriminaliseer jy haar liggaam.”

Ondersteuners van die Alabama-wetgewing sê die reg op die fetus se lewe oorheers alle ander regte, ’n beginsel wat hulle graag in die hoogste hof sal wil laat toets. – Reuters

Meer oor:  Kay Ivey  |  Alabama  |  Aborsiewet  |  Aborsies  |  Wetgewing  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.