Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Florence se stormvloede grootste gevaar

Die lewensgevaarlike orkaan Florence, ’n kategorie 4-orkaan, kan stormvloede veroorsaak wanneer dit die Amerikaanse ooskus Donderdagaand tref, wat beteken dat dit groot dele van die kuslyn kan verswelg.

Daar is ook ’n goeie kans dat die orkaan opgegradeer kan word na ’n kategorie 5-orkaan, wat beteken die wind kan ’n spoed van tot 252 km/h bereik, berig CNN.

Meer as ’n miljoen mense in Noord-Carolina, Suid-Carolina en Virginië aan die Amerikaanse ooskus is gevra om hul huise te ontruim.

Hieronder is die redes vir hoekom die orkaan Florence volgens kenners so gevaarlik is.

Sy krag

Die orkaan is in slegs ’n paar uur van ’n kategorie 2- tot ’n kategorie 4-storm opgegradeer. Die storm kan selfs vererger hoe nader dit aan Carolina beweeg.

Chad Myers, CNN se meteoroloog, sê die storm gaan groter word voordat dit tref.

Stormvloede

Stormsterk wind hou nie die grootste gevaar in nie, maar wel stormvloede weens die orkaan, volgens die Federale Noodbestuursagentskap (Fema).

“Stormvloede het die grootste potensiaal om die meeste mense dood te maak,” sê Brock Long, ’n Fema-werknemer.

“Dit kan ook die meeste verwoesting veroorsaak.”

’n Stormvloed is ’n wal water wat die potensiaal het om sekere dele van die kus te oorstroom.

Volgens Myers kan die water ’n hoogte van 6 m bereik.

Massiewe oorstromings in die binneland

Benewens die stormvloede langs die kus, kan stede in die binneland oorstroom word, al sal die spoed van die storm aansienlik begin afneem.

“Wat uniek is, is dat dit skielik gaan ophou met die gevolg dat ’n groot hoeveelheid reën in Noord- en Suid-Carolina, sowel as Virginië, gaan neerstort,” sê Long.

“Die bedreiging is nie net langs die kus nie.”

Myers sê sommige gebiede kan tot 508 mm reën kry.

Noord- en Suid-Carolina het reeds baie reën gekry, wat beteken die grond kan nie nog meer water absorbeer nie.

“Oorstromings in die binneland hou ’n groot bedreiging in. Mense wat hier woon, het rede tot kommer,” sê Brandon Miller, CNN se meteoroloog.

Dié mense nie gewoond aan orkane

Indien die jongste voorspellings korrek is, gaan die orkaan verder noord langs die suidkus tref en sal dit die eerste kategorie 4-orkaan in die geskiedenis in hierdie gebied wees. Dié deel van die kus word selde deur orkane getref.

Sedert die orkaan Hugo die streek 29 jaar gelede getref het, het die bevolking aan die kusgebied ook aansienlik gegroei.

“Daar woon 25% meer mense tussen Charleston (Suid-Carolina) en Morehead City (Noord-Carolina) as toe Hugo getref het,” sê Myers.

Hy sê baie van die mense het nog nooit ’n storm gesien wat so sterk is nie.

“Hulle het nie ’n benul wat dit kan doen aan hul huise nie en ook nie wat hulle kan doen om hul huise veiliger te maak nadat hulle dit ontruim het nie.”

Inwoners van Wilmington (Noord-Carolina), ’n kusstad wat gewoond is aan gure weerstoestande, maak gereed vir die orkaan se vernietigende impak.

Bill Saffo, burgemeester, sê: “Ons is al deur baie orkaanwaarskuwings deur die jare, maar dié een is ernstig.”

Saffo het inwoners gewaarsku om voorsorgmaatreëls te tref, want as die storm eers sy tande ingesink het, gaan noodpersoneel nie uitgestuur kan word om mense te red nie.

Meer oor:  Orkaan Florence  |  Storm  |  Amerika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.