Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Palestyne met nog aanvalle gepeper

Israel het Palestynse ekstremiste Maandag aan die begin van die tweede week van geweld in die Gasa-strook met nog lugaanvalle gepeper.

Die weermag in Israel sê nadat vuurpyle na die Israelse stede Beersheba en Ashkelon afgevuur is, het sy gevegsvliegtuie nege huise aangeval wat aan toplede van Hamas behoort.

Volgens die weermag word van dié huise gebruik om vuurwapens te berg.

Ooggetuies sê Israel het paaie, veiligheidsgeboue, die militante se oefenkampe en huise in hul jongste aanval geteiken.

Daar was nie onmiddellik berigte van sterftes nie.

Sondag het ’n lugaanval verskeie huise in Gasa vernietig.

Gesondheidsowerhede in Palestina sê 42 mense, insluitend tien kinders, is in die aanval dood. Die dodetal is nou 197, wat 58 kinders en 34 vroue insluit, volgens Hamas.

Volgens Israeliese owerhede is tien mense, insluitend twee kinders, aan hul kant van die geveg dood.

Dit lyk nie of die gevegte tussen Israel en Hamas, die militante groep in Gasa, enigsins vinnig tot ’n einde gaan kom nie.

Hamas het verlede Maandag vuurpyle op Israel begin afskiet ná weke se spanning oor ’n hofsaak om talle Palestynse families uit hul huise in Oos-Jerusalem te sit, asook uit weerwraak nadat die polisie in Israel en betogers naby die Al-Aqsa-moskee in Jerusalem, wat Islam se derde mees heilige plek is, tydens Ramadaan slaags geraak het.

Benjamin Netanyahu, Israel se premier, sê Israel se veldtog in Gasa sal voortduur.

Hy het Sondag in ’n toespraak wat gebeeldsend is, gesê hy tree nou op sodat hulle vrede vir inwoners in Israel kan bewerkstellig.

Netanyahu het op die Amerikaanse netwerk CBS se Face the Nation-program Israel se aanval verdedig waarin ’n gebou met 12 verdiepings vernietig is, en waar die Associated Press- en Al Jazeera-netwerke gehuisves is.

Volgens Netanyahu het dié gebou ook intelligensiekantore vir die militante gehuisves en meen hy die aanval is dus geregverdig.

Hy voer ook aan dat Israel inligting oor die gebou aan die Amerikaanse oewerhede gestuur het, maar ’n Amerikaanse intelligensiebeampte het nie gereageer op navrae om kommentaar te lewer nie.

Israel het glo ook vooraf gewaarsku dat inwoners die gebou moet ontruim.

Associated Press het die aanval veroordeel en het aan Israel gesê hy moet bewyse verskaf dat Hamas wel in die gebou was.

Oproepe uit die buiteland vir ’n skietstilstand val op dowe ore.

’n Man staan Maandag naby ’n fabriek in die noorde van die Gasa-strook wat deur ’n Israeliese lugaanval getref is. Foto: Reuters

Pres. Joe Biden van Amerika sê sy administrasie werk saam met alle partye om vrede te bewerkstellig en sê hulle glo mense in Palestina en Israel verdien om in veiligheid te lewe, asook in vryheid, demokrasie en voorspoed.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het in New York gesê die VN is met albei kante aktief in gesprek.

’n Groep senators in Amerika het ook Sondag ’n skietstilstand gevra.

Chris Murphy, die Demokrate se senator, en Todd Young, Republikeinse senator, wat in ’n paneel vir buitelandse verhoudinge dien, het in ’n verklaring gesê te veel mense het reeds in die jongste konflik omgekom en die geweld kan nie verder eskaleer nie.

25 ander Demokratiese senators en twee van die Independent Party het ’n soortgelyke verklaring uitgereik en ’n onmiddellike skietstilstand gevra.

Koning Abdoellah II bin Al-Hoessein van Jordanië sê sy koninkryk is betrokke daarby om ’n einde aan die geweld te bring, maar het nie uitgewei oor wat gedoen word nie.

Volgens die weermag in Israel het Hamas, ’n groep wat deur Israel, Amerika en die Europese Unie (EU) as ’n terreurgroep beskou word, en ander gewapende faksies die afgelope naweek meer as 2 800 vuurpyle vanaf Gasa afgevuur.

Baie van die vuurpyle is deur Israel se teenmissiel-stelsel onderskep, terwyl talle dit nie tot oor die grens gemaak het nie.

Die weermag in Israel sê die aanvalle waarin gewone burgers dood is, is nie met opset nie, maar Hamas het hierdie sterftes as “moord met voorbedagte rade” beskryf. – Reuters

Meer oor:  Palestina  |  Israel  |  Gasa-Konflik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.