Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Kalm Kamala: 'Mnr. visepresident, ek praat nou'

Kamala Harris, die Demokrate se visepresidentskandidaat, het Woensdagaand daarin geslaag om Mike Pence, visepresident van Amerika, te dwing om pres. Donald Trump se omstrede standpunte oor 'n verskeidenheid kwessies te probeer verdedig.

En waar Pence 'n astrante poging aangewend het om 'n positiewe saak te stel, en Harris soms in die rede geval het, het sy kalm gesê: "Mnr. visepresident, ek praat nou".

Pence en Harris het vroeg reeds en gereeld tydens die debat oor Trump se administrasie se hantering van die koronavirus-pandemie gebots.

Die debat het in skrille kontras gestaan met die chaotiese presidensiële debat van verlede week tussen Trump en die Demokratiese presidentskandidaat Joe Biden, wat gekenmerk is deur Trump se voortdurende onderbrekings en persoonlike beledigings deur albei mans.

Maar Pence en Harris se debat sal waarskynlik nie die trajek van die wedloop verander nie, want albei kandidate het sekere vrae ontwyk en het die soort flaters wat die nuus sou haal, vermy.

Harris, wat die tradisionele aanvalsrol vervul het, het Trump se geskiedenis oor gesondheidsorg, die ekonomie, klimaatsverandering en buitelandse beleid gekap, terwyl Pence die Republikeinse regering verdedig het.

“Die mense van Amerika het gesien wat die grootste mislukking van enige presidensiële regering in die geskiedenis van ons land is,” het Harris gesê toe die debat by die Universiteit van Utah in Salt Lake City begin het.

In reaksie het Pence China blameer vir die pandemie en hy het die pogings van die Amerikaanse regering om die siekte te stuit, geloof, insluitend Trump se besluit einde Januarie om reis vanaf die episentrum van die pandemie in China te verbied.

“Ek wil hê die mense van Amerika moet weet dat president Donald Trump van die eerste dag af die gesondheid van Amerika eerste gestel het. China moet blameer word vir die koronavirus, en president Trump is nie gelukkig daaroor nie,” het hy gesê.

Pence is gevra oor die administrasie se geleentheid by die Withuis verlede maand waarin Trump se jongste hooggeregshof-benoeming aangekondig is, waar maskers en sosiale afstand meestal afwesig was. ’n Aantal prominente bywoners, waaronder die president self, is sedertdien positief vir Covid-19 getoets.

Die visepresident het gesê dat die byeenkoms buite plaasgevind het voordat hy Harris en Biden gekritiseer het omdat hulle maskers op federale eiendom verpligtend wil maak en die praktyk landwyd wil aanmoedig, asook omdat hulle nie mense se vryheid respekteer om hul eie gesondheidskeuses te maak nie.

“Jy respekteer die Amerikaners as jy hulle die waarheid vertel,” het Harris geantwoord en gesê dat Trump die virus maande lank onderspeel het.

Harris het die Trump-administrasie ook gekap omdat hy probeer het om die bekostigbare gesondheidsorgwetgewing (ACA) te midde van ’n pandemie ongeldig te maak. Dit terwyl die administrasie ook Trump verdedig omdat hy glo net $750 per jaar aan federale inkomstebelasting as president betaal het.

“Toe ek dit die eerste keer hoor, het ek letterlik gesê: ‘Bedoel jy $750 000?’ ” het Harris gesê met verwysing na ’n ondersoek van die New York Times. “En dit was soos ‘Nee, $750.’ ”

Pence het die ACA, bekend as Obamacare, ’n “ramp” genoem.

Pence het gepoog om Harris se aanvalle teë te werk deur die fokus op die ekonomie en belastingbeleid te rig en gesê: “Op dag een gaan Joe Biden jou belasting verhoog.” Harris het gesê Biden het beloof om nie belasting te verhoog vir iemand wat minder as $400 000 per jaar verdien nie.

Op ’n vraag oor ’n moontlike Covid-19-entstof, het Harris gesê dat sy slegs die woord van wetenskaplikes vertrou, eerder as die van Trump, wat in die verlede onbewese behandelings bevorder het.

“As die dokters vir ons sê dat ons dit moet neem, sal ek absoluut die eerste wees wat dit sal neem. Maar as Donald Trump vir ons sê om dit te neem, neem ek dit nie,” het sy gesê.

Pence het teruggekap en Harris beskuldig dat sy die vertroue van die publiek in entstowwe ondermyn.

Harris het ook Pence aangeval oor rasseverhoudinge en kritiseer Trump omdat hy tydens die debat met Biden verlede week ’n kans om wit heerssugtiges te veroordeel, van die hand gewys het.

In reaksie het Pence die media daarvan beskuldig dat hy Trump se woorde buite verband geruk het en gesê die president het rassistiese groepe herhaaldelik afgekeur. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.