Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Polisielid dood ná voorval by kongresgebou in VSA

Die Washington-metropolisie het Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) aangekondig dat een van die polisielede ná ’n voorval vroeër by die kongresgebou in dié Amerikaanse stad oorlede is. Sy naam is nie bekend gemaak nie.

Dit volg nadat ’n man kort ná 13:00 (Amerikaanse tyd) in ’n motor in ’n versperring vasgejaag het en twee polisielede getref het. Die bestuurder was met ’n mes gewapen en is geskiet. Hy is op die toneel dood.

Yogananda D. Pittman, waarnemende hoof van die US Capitol Police (USCP), het tydens ’n mediakonferensie gesê op video-opnames van die voorval kan ’n mens die mes in die verdagte se hand sien waar hy by die voertuig uitklim. Volgens die polisie het die man “aggressief” na die polisiebeamptes gehardloop. “Hy (die verdagte) het nie op verbale opdragte gereageer nie,” het Pittman gesê.

Die kongresgebou in Washington agter die versperrings. Foto: AP

Die twee USCP-lede is na afsonderlike hospitale geneem, waar die een later dood is.

Robert Contee, waarnemende hoof van die Washington-metropolisie, het op die mediakonferensie gesê hulle glo nie dit is ’n terreuraanval nie.

Die verdagte het geen bande met enigiemand wat in die gebou werk nie en daarom moet hulle die saak deeglik ondersoek om vas te stel wat die motief vir die aanval was.

Tans word die toneel nog gefynkam en strate is afgesper.

Nancy Pelosi, speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, het intussen gelas dat vlae by die kongresgebou halfmas hang.

Waarnemende hoof van die Amerikaanse Capitol Police (USCP) Yogananda Pittman kom by die mediakonferensie aan wat gehou is na afloop van die voorval. Foto: AP
’n Soldaat staan wag ná die motor in die versperrings gebots het. Foto: AP
Polisie- en brandbestrydingsvoertuie buite die kongresgebou in Washington. Foto: AP
Lede van die polisie by die motor wat in die versperring vasgejaag het. Foto: AP

Die kongresgebou is ook weer oopgestel nadat dit aanvanklik kort ná die voorval ingegrendel is. Mense in die gebou is oor die interkom gewaarsku om in hul kantore te bly en nie naby die vensters te kom nie.

Die Withuis het ook bevestig dat pres. Joe Biden “bewus” is van die voorval. Hy bring die Paasnaweek in Camp David, die presidensiële woning in die deelstaat Maryland, deur.

• Nog ’n lid van die USCP, Brian Sicknick, is vroeër vanjaar dood, nadat hy beseer is tydens die voorval by die kongresgebou op 6 Januarie toe ondersteuners van oudpres. Donald Trump die gebou bestorm het.

– CNN, Business Insider, Sky News

Meer oor:  Washington  |  Amerika  |  Kongresgebou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.