Sjinzo Abe, premier van Japan, het Woensdag vloedgeteisterde dele van die land besoek.

Sjinzo Abe, premier van Japan, praat Woensdag met kinders wat ontruim is by ’n sentrum in Koerasjiki, Okajama, ná oorstromings en grondstortings verlede week. Foto: Shohei Miyano/Kyodo News via AP
Netwerk24Foto: Kota Endo/Kyodo News via AP
Die dodetal het tot 176 gestyg in die ergste oorstromings in 36 jaar te midde van vrese vir nog oorstromings.
Stortreën het verlede week oorstromings en grondstortings in die weste van Japan veroorsaak met groot skade aan veral woonbuurte wat dekades gelede teen steil hellings gebou is.
Abe, wat ’n oorsese besoek afgestel het om die ramp te hanteer, het onder kritiek deurgeloop nadat ’n foto op Twitter gedeel is van waar hy en sy minister van verdediging saam met parlementslede ’n partytjie bywoon net toe die reën begin vererger.
Hy het uit ’n helikopter die skade in Okajama – een van die gebiede wat die hardste getref is – bekyk en toe ’n skuiling vir mense besoek wat uit hul huise ontruim is.
Hier het hy op die grond gaan sit om te praat met mense, van wie talle bejaardes is, en het hulle oor hul gesondheid uitgevra.
Abe se regering het $4 miljard vir die heropbou ná die ramp toegewys en sal ’n bykomende begroting oorweeg as dit later nodig is.
Reddingswerkers en snuffelhonde spook in skroeiende hitte om hope hout en dik modder te fynkam vir lyke. In sommige gevalle het slegs die fondamente van huise oorgebly en het reddingswerkers met kettingsae deur die brokstukke gesny.

Sjinzo Abe, premier van Japan, luister Woensdag in Okajama na mense wat ontruim is ná verlede week se oorstromings en grondstortings. Foto: Shohei Miyano/Kyodo News via AP
Met die temperature wat tot 33 °C en hoër in Okajama en Hirosjima kan styg, word daar nou probeer om hitte-uitputting onder reddingswerkers en die duisende mense in die skuilings te voorkom. Amptenare het op sosiale media ook gewaarsku oor die gevaar dat kos besmet kan word en aanbeveel dat mense hul hande gereeld was en ander maatreëls tref om voedselvergiftiging te voorkom.
Ontruimingsbevele is uitgereik vir 25 huishoudings in die stad Foekoejama nadat krake in ’n reservoir gevind is.
Water wat opdam waar wrakstukke riviere versper, skep ook die risiko dat woonbuurte van Foekoejama kan oorstroom.
Die toenemende hitte kan Woensdag nog donderstorms veroorsaak en die owerhede waarsku dat nog grondstortings teen die berghange kan voorkom.
- Reuters

’n Stuk pad in Hirosjima is verwoes nadat stortreën verlede week oorstromings en grondstortings in die weste van Japan veroorsaak het. Foto: Asahi Shimbun/Getty Images

Inwoners van Okajama loop Dinsdag in die stowwerige strate ná oorstromings en modderstortings verlede week. Foto: Reuters/Issei Kato

’n Motor wat in Koerasjiki, Okajama, op sy dak beland het in verlede week se oorstromings en grondstortings. Foto: Reuters/Issei Kato

Polisielede gebruik Woensdag stokke om oorlewendes en lyke in Hirosjima op te spoor. Foto: Shingo Nishizume/Kyodo News via AP

Reddingswerkers soek Woensdag na oorlewendes in Hirosjima. Foto: Kota Endo/Kyodo News via AP