Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Regse populisme groei ook in Swede

Die uitslag van die Sweedse parlementêre verkiesing van Sondag is ’n bevestiging van ’n neiging wat oor die hele Wes-Europa voorkom – die regse populiste maak vordering, maar sonder dat daar sprake van ’n deurbraak is.

Luidens die uitslag het die gematig-linkse Sosiaal-Demokrate met 28,3% van die stemme die grootste party gebly, al het sy steun met 3 persentasiepunte gesak. (Daarmee is die steun vir dié party die laagste in meer as ’n eeu.)

Tweede was die gematig-regse Moderaterna (Gematigdes) met 19,7% – ’n verlies van byna 4 persentasiepunte. Daarteenoor het die regse populiste, die Swede-Demokrate, van byna 13% tot 17,7% gestyg.

Laasgenoemde is die beste wat die regse populiste nóg gevaar het. Tog is dié vordering aansienlik minder as waarop die party gehoop en sy opponente gevrees het – in ’n stadium het peilings gewys dat die Swede-Demokrate ’n kwart van die stemme kan trek.

Jimmie Akesson, leier van die Sosiaal-Demokrate. Foto: Reuters

Dit wys dat die party se steun die laaste weke weer gedaal het en dat hy moontlik oor sy hoogtepunt kan wees.

Die Swede-Demokrate het ’n problematiese geskiedenis. Die party is oorspronklik deur ’n groep klipharde neo-Nazi’s gestig wat Adolf Hitler verheerlik het.

Dit was voldoende om daarvoor te sorg dat die groep ’n regse randeier sonder steun en invloed gebly het. Maar sedert Jimmy Åkesson in 2005 leier geword het, het hy hard gewerk om die party uit sy ekstreemregse hoekie te trek, nader aan die politieke sentrum, waar die meeste kiesers hulle bevind.

Hy het taamlik goed daarin geslaag, soos die uitslag wys.

Åkesson het taamlik gehamer op wat hy beskou as die gevaar van onbeheerde immigrasie. Swede het die mees liberale immigrasiebeleid in die ganse Europa, en vergeleke met die bevolking het hy sedert die yslike vlugtelingstroom van 2015 die meeste immigrante van alle Europese lande toegelaat.

Dit blyk uit die oorweldigende steun vir die ander partye, wat ’n meer liberale rigting wil volg.

Dit steek talle Swede dwars in die krop. Die immigrante koek hoofsaaklik in stedelike agterbuurte saam, waar hulle dikwels al die meerderheid vorm en gebore Swede na vreemdelinge in hul eie land laat voel.

Sommige van die immigrante wend hulle tot misdaad en vandalisme. Hulle is swak in die Sweedse samelewing geïntegreer, dikwels swak opgelei en werkloos.

Dit is dié faktore wat die vordering van die Swede-Demokrate verklaar.

Terselfdertyd is dit steeds duidelik dat die meeste Swede nie Åkesson se radikale oplossing – om die meeste immigrante eenvoudig uit te skop – steun nie. Dit blyk uit die oorweldigende steun vir die ander partye, wat ’n meer liberale rigting wil volg.

Nietemin sou die nuwe regering ’n fout maak as hy die kommer onder die kiesers oor die immigrasiekwessie ignoreer.

Meer oor:  Verkiesing  |  Leopold Scholtz  |  Swede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.