Shinzo Abe, premier van Japan, gaan glo bedank weens swak gesondheid, het ’n bron van die regerende party Vrydag gesê.
Dit sal na verwagting bevestig word op die nuuskonferensie wat Abe later vandag hou.
“Die bedankingsooreenkoms is voltooi,” het die bron na aan ’n senior amptenaar in die Liberale Demokratiese Party (LDP) van Abe gesê.
Abe (65) is al agt jaar die premier en het Maandag die langste dienende premier geword.
Die nasionale uitsaaier NHK, wat die bron aangehaal het, berig Abe gaan bedank om verdere probleme vir sy regering te voorkom.
Hy gaan gebuk onder kritiek vir die hantering van die koronaviruspandemie en skandale onder partylede. Abe se steun het tot sy laagste vlak in sy amp gedaal.
Abe sukkel al jare lank met dermontsteking en twee onlangse hospitaalbesoeke binne ’n week het vrae laat ontstaan of hy tot die einde van sy termyn as leier van die regerende party en ook as premier tot in September 2021 kan aanbly.
Abe het in 2007 ná ’n jaar as premier gesondheidsprobleme ondervind en het sedertdien sy siekte in toom gehou met medisyne wat nie voorheen beskikbaar was nie.
Abe gaan na verwagting om 17:00 (Japanse tyd) ’n nuuskonferensie hou.
Abe se bedanking sal lei tot ’n leierskapswedloop in die LDP met die wenner wat formeel in die parlement verkies moet word.
Die konserwatiewe Abe het in Desember 2012 vir ’n seldsame tweede termyn as premier teruggekeer, en het onderneem om die ekonomie te verbeter met sy ‘Abenomics’-mengsel van monetêre beleid, fiskale besteding en hervormings. Hy het ook belowe om Japan se verdediging op te skerp en wou ook die grondwet hersien. – Reuters

Shinzo Abe, premier van Japan, kondig na verwagting later vandag sy bedanking aan. Foto: Reuters