Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mej. Heelal: SA se Natasha haal nie eens top-21

Van Suid-Afrika se bekendste skoonhede het hul skok uitgespreek nadat Natasha Joubert nie die top-21 in die Mej. Heelal-kompetisie gehaal het nie.

In ’n uiters kompeterende en onvoorspelbare jaar is Andrea Meza (27) van Mexiko aangewys as die nuwe Mej. Heelal.

Sy volg Suid-Afrika se Zozibini Tunzi op as die 69ste kroondraer en is Maandag in die vroeë oggendure op ’n glansgeleentheid in Hollywood, Amerika, gekroon.

Meza het ’n graad in sagteware-ingenieurswese en is die eienaar van haar eie klerehandelsmerk. Sy beskryf haarself as ’n aktivis vir vroueregte en toerisme na haar vaderland.

Dit was ’n verrassing toe Meza gekroon is as Mej. Heelal nadat verskeie mense opgemerk het dat Mej. Peru, Janick Maceta del Castillo, baie sterk antwoorde gegee het toe die topvyf beoordeel is.

Zozibini Tunzi sit die kroon op Andrea Meza (27) van Mexiko se kop. Foto: Twitter/Missosology

Ook in die topvyf was Adline Castelino (Indië), Julia Gama (Brasilië) en Kimberly Jimenez (Dominikaanse Republiek).

Joubert (23) het ná die eerste onderhoude in die eerste ronde van die kompetisie, wat reeds voor die kroningsaand gehou is, nie die top-21 gehaal nie.

Dit was vir baie ’n reuseskok.

“Ek is steeds in ontkenning dat Natasha nie die top-21 gehaal het nie,” het Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld, op Instagram gesê.

“Ek glo steeds daar moes die een of ander groot fout gewees het. Maar, Natasha, jy sal altyd ons Mej. Heelal wees. Ons is so trots op jou!”

Natasha Joubert Foto: Instagram/Natasha Joubert

Margaret Gardiner, Suid-Afrika se heel eerste Mej. Heelal, sê op Instagram: “Dankie dat jy Suid-Afrika so mooi verteenwoordig het. Jy het ons trots gemaak en ek hoop ek kan jou eendag ontmoet.”

Melinda Bam, Mej. Suid-Afrika van 2011 wat die toptien gehaal het in die Mej. Heelal-kompetisie in 2012, sê: “Ek is hartgebroke. Ek is heeltemal sprakeloos dat sy nie eens in die top-21 is nie. Hoe gebeur dit?

“Natasha is steeds my Mej. Heelal.”

Die kompetisie het Maandag rondom 02:00 (SA tyd) begin en rondom 05:00 is Meza as die wenner aangewys.

Simon Rademan, Suid-Afrikaanse modeontwerper en skrywer, sê: “Ek was aangetrek met ’n koppie koffie langs my toe beurtkrag ewe skielik intree net toe die kompetisie begin.

“Nooit in my wildste drome sou ek gedink het dat #eishkom ’n slegte teken sou wees van wat voorlê nie. Wat het gebeur, julle?”

Die Mej. SA-organisasie het op sosiale media gesê: “Suid-Afrika, laat ons vir Natasha ’n staande applous gee.

“Jy is vrymoedig, veerkragtig, outentiek! Ons sal vir altyd trots wees op jou en op wat jy bereik het gedurende jou Mej. Heelal-reis!”

Dit was nie net Suid-Afrikaners wat geskok was oor die uitslag nie. Ook talle voorspellers soos Siera Bearchell, oud-Mej. Kanada, het gesê sy is teleurgesteld dat haar vaderland se verteenwoordiger en Suid-Afrika s’n albei oor die hoof gesien is.

Die kompetisie is in die Seminole Hard Rock Hotel en Casino in Hollywood, Florida, gehou. Rabiya Mateo van die Filippyne en Amanda Obdam van Thailand het ook nie die topvyf gehaal nie. Dié twee, asook Mariángel Arteaga van Venezuela, was van die gunstelinge.

Meza het aan Mexiko sy derde Mej. Heelal-titel besorg.


Meer oor:  Hollywood  |  Natasha Joubert  |  Mej. Heelal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.