Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Só rand Zim-polisie mense van deur tot deur aan

’n Video wat deur die CNN-aanbieder, Robyn Lee, geverifieer is, wys hoe 'n lid van die polisie of weermag in Zimbabwe iemand slaan met ’n voorwerp wat soos ’n stok lyk.

Lee, wat in Zimbabwe grootgeword het en ’n Afrika-korrespondent vir die uitsaaier eNCA was, het luidens haar Facebook-inskrywing die oorsprong van die video geverifieer en vasgestel dat dit verlede Woensdag in Chitungwiza geneem is terwyl die land se internettoegang afgeskakel was.

Die persoon wat die video opgeneem het, het vir Lee gesê polisielede en soldate het van deur tot deur gegaan om mans van tussen 17 en 35 jaar op te spoor en hulle met die kolf van ’n vuurwapen en sambokke geslaan.

“Hulle het jou gelos as jy kon bewys dat jy ’n lid van die regerende party is. Die persoon het in hierdie voorval geen geweerskote gehoor nie,” sê Lee op Facebook.

President veroordeel polisie

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe het Dinsdag onderneem om op te tree teen veiligheidsmagte wat met geweld teen die betogers opgetree het.

Prokureurs en aktiviste sê die polisie en soldate het minstens 12 mense vermoor, nog meer gewond en honderde in hegtenis geneem sedert die betogings ná ’n styging in die brandstofprys deur Mnangagwa nege dae gelede aangekondig is.

Zimbabwe se Menseregtekommissie (ZMK) beskuldig veiligheidsmagte van stelselmatige marteling.

Hierdie gebeure word beskou as die sterkste aanduiding dat die land teruggekeer het na die outoritêre bewind van 37 jaar onder die regime van oudpres. Robert Mugabe, wat in November 2017 uit die kussings gelig is.

Mnangagwa skryf op Twitter – in sy eerste openbare kommentaar sedert hy teruggekeer het nadat hy sy buitelandse staatsbesoek kortgeknip en sy bywoning van die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos gekanselleer het – dat “geweld of wangedrag deur ons veiligheidsmagte onaanvaar is en die nuwe Zimbabwe verraai”.

Hy skryf verder: “’n Chaos en weerspannigheid sal nie geduld word. Wangedrag sal ondersoek word. Indien nodig, sal koppe rol.”

Net voor dit het hy getwiet dat hy die leiers van alle politieke, sowel as geloofsleiers uitnooi ’n “nasionale dialoog” met kerke, die burgerlike samelewing en die opposisie.

Sedert Mnangagwa Maandag na Harare teruggekeer het, het ’n prokureursgroep nog beweerde menseregteskendings aangemeld, wat bespiegelings van ’n diepe verdeling binne die regering aanvuur.

Skeuring in regering

Twee van Mnangagwa se bondgenote – Justice Mayor Wadyajena, een van Zanu-PF se “jong Turke”, en Terence Mukupe, die voormalige adjunkminister van finansies, meen sommige in die regering probeer hom in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Wadyajena het twee dae gelede getwiet: “Hulle het gedreig om my dood te maak en my familie seer te maak. Ek staan agter @edmnangagwa ...

’n Woordvoerder vir Mnangagwa het Sondag gesê die optrede teen die betogers is ’n voorsmakie van hoe die owerhede in die toekoms op onluste gaan reageer.

Die ZMK beweer die veiligheidsmagte het begin met die stelselmatige marteling van inwoners nadat die onluste verlede week gewelddadig geraak het.

Volgens die polisie is drie mense in die geweld dood.

zimbabwe, betogings
Die beserings aan 'n man se rug wat in hegtenis geneem is op 16 Januarie nadat betogings in Harare, Zimbabwe uitgebreek het. Foto: Reuters

Die ZHK beweer die brute krag wat gebruik is op diegene wat beseer of dood is, dui op polisiewreedheid.

Die bewerings word glo gestaaf deur mediese verslae, het een van die ZMK se kommissarisse aan verslaggewers gesê.

Terwyl gewapende soldate Dinsdag Harare se strate gepatrolleer het, het ’n pasiënt in ’n kliniek in die stad gesê hy is bang om dit buite te waag omdat die soldate hom verlede week in die Kuwadzana-dorpie geslaan en sy arm gebreek het.

“Ek weet steeds nie watter misdaad ek gepleeg het om dit te verdien nie,” het Farai Mupasi aan Reuters gesê.

DA meen SA gaan dit ontgeld

Intussen het die DA in ’n verklaring gesê Jacques Julius, die party se woordvoerder vir immigrasie, gaan Woensdag die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe besoek.

Weens die geweld en onrus in Zimbabwe, soek duisende mense ekonomiese toevlug en veiligheid, lui die verklaring.

“Daarom sal die DA die gereedheid van amptenare van binnelandse sake aan die grens evalueer, terwyl hulle praat met Zimbabwiese burgers oor die menseregteskendings wat hulle in die gesig staar.”

Die DA het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om op te tree ten opsigte van die konflik in Zimbabwe.

“Kwesbare Zimbabwiërs word gedwing om uiterste lyding, vrees en gevaar te verduur – dit is nou nie die tyd vir stille diplomasie nie,” sê die DA in die verklaring.

Meer oor:  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.