Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Trump bring hulde op 9/11, maar nie sonder kritiek

Pres. Donald Trump het Dinsdag tydens die 17de herdenking van 9/11-terreuraanvalle in 2001 in Amerika ’n sober toespraak gelewer. Een koerant het egter uitgewys dat hy die omstrede frase “radikale Islamitiese terrorisme” gebruik het.

Die gekoördineerde terreuraanvalle deur die Islamitiese terroristegroep Al-Kaïda het behels dat sy vegters passasierviegtuie gekaap het en in die ikoniese Twin Towers in New York vasgevlieg het.

Pres. Donald Trump van Amerika en sy vrou, Melania, Dinsdag by die Flight 93 National Memorial naby Shanksville in Stoystown, Pennsilvanië. Foto: Reuters

Nog ’n passasiersvliegtuig is gekaap en het in Pennsilvanië neergestort en ’n ander vliegtuig het in die Pentagon in Washington vasgevlieg.

Trump sê die hele bevolking deel in die pyn en smart van diegene wat hul geliefdes verloor het in die aanval.

Hy het in Shanksville, Pennsilvanië, gepraat. Dit is die plek waar United Flight 93 neergestort het nadat van die passasiers aan boord teen die kapers terugbaklei het om beheer van die vliegtuig terug te kry. Al 44 passasiers aan boord is dood toe die vliegtuig in die veld neergestort het.

Trump het die mans en vroue se optrede geprys wat in die proses “baie lewens gered het”.

“Ons treur almal saam vir elke ma en pa, suster en broer, seuns en dogters, wat van ons af weggesteel is in die Twin Towers, die Pentagon en hier in Pennsilvanië,” het Trump gesê.

In New York het die Klok van Hoop by die St. Paulus-kapel om 08:46 gelui, om die oomblik te herdenk toe die eerste van die twee gekaapte vliegtuie in die World Trade Centre vasgevlieg het.

Die klok lui sedert 2002 elke jaar ter herinnering aan die mense wat hul lewe daar verloor het, berig Reuters.

Roubeklaers het ook by die National September 11 Memorial Plaza in Manhattan saamgedrom om te luister hoe die slagoffers se name uitgelees word.

CNBC berig Trump het in sy toespraak ook daarop gewys dat vyf en ’n half miljoen jong Amerikaners sedert die aanval aangesluit het by die weermag en dat 7 000 van hulle in die stryd teen “radikale Islamitiese terrorisme” dood is.

Die woord “radikale Islamitiese terrorisme” word as omstrede beskou, want dit spreek die Moslem-geloof in die algeheel aan en nie net die terroristegroep Al-Kaïda, wat die misdade gepleeg het nie.

Trump het nie die frase in verlede jaar se toespraak gebruik nie.

Margie Miller van Baldwin, Alabama, wat haar man in die aanval verloor het, het die seremonie in New York bygewoon, berig CBS News.

“Wat my betref is hy hier. Dit is my heilige plek,” het Miller gesê terwyl die name van naastenby 3 000 oorledenes, insluitende dié van haar man, Joel Miller, uitgelees is.

Nicholas Haros Jr. sê dit pla hom dat sommige amptenare die 9/11-tragedie vir politieke doeleindes gebruik.

“Hou op. Hou op daarmee,” pleit Haros, wat sy 76-jarige ma, Frances, daar verloor het.

“Moenie die beendere en die as van ons geliefdes as rekwisiete gebruik in jul politieke teaters nie. Hul lewe en die opofferings wat hulle gemaak het, is veel meer werd.”

Meer oor:  Donald  |  Trump  |  Vsa  |  9/11  |  Terreuraanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.