Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Trump erken hy het met Oekraïne oor Biden gepraat

Pres. Donald Trump van die VSA het Sondag erken dat hy Joe Biden, voormalige visepresident van Amerika, en sy seun in ’n telefoongesprek met die president van die Oekraïne bespreek het.

Biden hoop om volgende jaar die demokrate se verkose kandidaat vir die Amerikaanse presidentsverkiesing te word.

Trump se bekentenis aan verslaggewers oor sy telefoongesprek op 25 Julie met Wolodimir Zelenski, die Oekraïense president, kom nadat die Demokratiese leier van ’n sleutel-kongrespaneel gesê het dat “die enigste oplossing” vir die situasie moontlik is om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Trump en Zelenski se telefoonoproep is sedert Vrydag die middelpunt van die eskalerende stryd in Washington. Luidens nuusberigte het Trump die Oekraïense leier herhaaldelik gevra om ondersoek in te stel of Biden, die Demokratiese voorloper wat Trump heel waarskynlik volgende jaar in die verkiesing gaan takel, sy posisie misbruik het toe hy visepresident onder pres. Barack Obama was.

Trump het buite die Withuis aan verslaggewers gesê die telefoongesprek met Zelenski het onder meer ook gehandel oor korrupsie in die Oekraïne, en die Bidens se rol daarin.

“Al die korrupsie wat plaasvind, en grootliks die feit dat ons nie wil hê dat ons mense soos visepres. Biden en sy seun tot die korrupsie moet bydra wat reeds in die Oekraïne is nie,” het Trump gesê.

Demokrate het gesê as Trump Zelenski gevra het om Biden te ondersoek, is dit gelykstaande aan buitelandse inmenging in die 2020-verkiesing.

Trump het ontken dat hy enigiets onvanpas gedoen het. Sy bondgenote, onder wie die minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, en sy persoonlike prokureur, Rudy Giuliani, het die president se telefoongesprek, wat volgens nuusberigte deur ’n onbekende fluitjieblaser bekend gemaak is, verdedig.

Pres. Donald Trump reageer op verslaggewers se vrae buite die Withuis voordat hy na Texas vertrek. Foto: Reuters

As ’n ondersoek aandui dat Trump druk op die Oekraïne geplaas het om Biden te ondersoek, het die Amerikaanse kongres geen ander keuse as vervolging nie, het Adam Schiff, Demokraat en voorsitter van die huis van verteenwoordigers se komitee oor inligting, Sondag gesê.

Schiff het voorheen weggeskram van vervolging, maar sy kommentaar op CNN se State of the Union het gewys dat hy sy standpunt verander het.

Ander wetgewers het ’n beroep gedoen op die Demokratiese leierskap om hom onmiddellik vir vervolging te beywer, maar die speaker van die Demokratiese huis van verteenwoordigers, Nancy Pelosi, het tot dusver teenstand gebied teen oproepe om die proses amptelik te begin.

Die bewering teen Joe Biden is dat hy sy posisie misbruik het en gedreig het om Amerikaanse noodleniging aan die Oekraïne te weerhou indien die land nie ’n aanklaer afdank wat ’n oliemaatskappy ondersoek, waarvan Biden se seun Hunter op die direksie gedien het. Die aanklaer is uiteindelik afgedank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.