Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Verloop van Siriese oorlog

Die Siriese weermag het hom voorberei vir ’n aanslag op die laaste rebellevesting in die land.

Die oorlog, wat as ’n opstand teen die regering begin is, duur al sewe jaar. Meer as 350 000 mense het na raming reeds gesterf.

Die oorlog het begin as ’n opstand teen pres. Basjar al-Assad. Foto: Getty Images

Sommige glo die sterftesyfer kan selfs nader aan 511 000 wees. Daarbenewens het ’n stortvloed vlugtelinge uit die land veral in Mediterreense lande in ’n humanitêre krisis ontaard.

Die VN het ’n beroep gedoen dat burgerlikes toegelaat word om die stad Idlib voor enige aanslag op die rebellemagte te verlaat.

’n Ontploffing ruk in Oktober 2014 deur die Siriese stad Kobani, waar Siriese Koerde weerstand teen militante van die Islamitiese Staat bied. Foto: Getty Images

Só het die oorlog tot dusver verloop:

  • Maart 2011 – Die eerste betoging teen pres. Basjar al-Assad versprei vinnig en ’n golf inhegtenisnemings en skietvoorvalle volg.
  • Julie 2011 – Betogers neem die wapen op en militêre eenhede skaar hulle by betogers. Die betogers kry steun uit Westerse en Arabiese lande, asook Turkye.
  • Januarie 2012 – ’n Bomaanval in Damaskus is die eerste deur die Noesra-front, Al-Kaïda se nuwe Siriese filiaal, wat groepe met ’n nasionalistiese ideologie wil verpletter.
  • Junie 2012 – Wêreldmagte vergader in Genève, Switserland, en ondersteun ’n politieke oorgang, maar verdeeldheid oor hoe dit bereik moet word, stuit die Verenigde Nasies (VN) se vredespogings.
’n Pa hardloop ná ’n Russiese lugaanval in November 2015 met sy beseerde kind in die Soekeri-deel van Aleppo. Foto: Getty Images
  • Julie 2012 – Assad span sy lugmag teen opposisievestings in nadat rebelle grondgebied wen. Die oorlog eskaleer met slagtings aan albei kante.
  • April 2013 – Libanon se militante organisasie Hezbollah help Assad om die stad Koesaïr te wen. Die veldslag toon die toenemende rol van die Iran-gesteunde groep in die konflik.
  • Augustus 2013 – Amerika sê hy sal nie chemiese wapens in die Siriese oorlog duld nie, maar verroer geen vinger toe burgerlikes in ’n gasaanval op die rebelle-beheerde oostelike Ghoeta sterf nie.
Die Assad-regering word daarvan beskuldig dat hy gifgas in aanvalle gebruik het. Bewerings word gemaak dat die rebellemagte ook oor chemiese wapens beskik. Foto: Getty Images
  • Januarie 2014 – ’n Al-Kaïda-splintergroep neem die stad Rakka oor, beset stroke grondgebied in Sirië en Irak, verklaar ’n nuwe kalifaat en noem dit die Islamitiese Staat (Isis).
  • Mei 2014 – Rebelle in die stad Homs gee oor en stem in om na ’n voorstad te verskuif. Dit is hul eerste groot nederlaag in ’n groot stad en die begin van nog “ontruimingsonderhandelings”.
  • September 2014 – Amerika stel ’n koalisie saam teen Isis en begin met lugaanvalle. Koerdiese magte, wat die djihadistiese gety laat draai, veroorsaak wrywing met sy bondgenoot Turkye.
  • Maart 2015 – Met beter samewerking en meer wapens uit die buiteland vorder die rebelle en beset die stad Idlib, maar Islamitiese militantes speel ’n groter rol.
’n Seuntjie loer in Augustus 2016 by ’n venster uit op die grensdorp Jarabloes toe Turkse troepe en rebelle, wat deur Turkye ondersteun is, teen Koerdiese-magte opgetrek het. Foto: Getty Images
  • September 2015 – Rusland skaar hom by Assad, ontplooi sy lugmag en verskaf militêre hulp wat vinnig die verloop van die konflik beslissend teen die rebelle draai.
  • Augustus 2016 – Besorg oor Koerdiese vordering teen Isis langs sy grens, begin Turkye ’n inval met geallieerde rebelle om ’n nuwe sone beheer deur Turkye te skep.
  • Desember 2016 – Assad se momentum neem toe nadat die Siriese weermag, ná maande se beleg, die rebelle in Aleppo, hul grootste stedelike basis, verslaan.
  • Januarie 2017 – Terwyl die VN se vredespogings wankel, vergader Rusland, Iran en Turkye in Kazachstan om “deëskaleringsones” in Sirië te skep – wat ook nie die oorlog beëindig nie.
In Desember 2016 is derduisende burgerlikes toegelaat om Aleppo te verlaat. Foto: Getty Images
  • Maart 2017 – Israel erken dat hy lugaanvalle teen Hezbollah in Sirië uitgevoer het, wat teen Iran en sy bondgenote se toenemende mag gemik was.
  • April 2017 – Amerika loods ’n missielaanval op ’n lugmagbasis van die Siriese regering naby Homs ná ’n gifgasaanval op die rebellestad Chan Sjeichoen.
Dele van Aleppo is heeltemal in herhaalde bomaanvalle verwoes. Foto: Getty Images
  • November 2017 – Amerikaans gesteunde, Koerdies geleide magte verslaan Isis in Rakka. Dié offensief en ’n aanval deur die Siriese leër verdryf die djihadistiese groep uit byna al sy grondgebied.
  • April 2018 – Die Siriese weermag neem Oos-Ghoeta terug voordat hy die ander insurgente-enklawe in Sentraal-Sirië, en dan die rebelle se suidelike bastion, Deraa in Junie oorneem.
  • Augustus 2018 – Pro-regeringsmagte trek saam vir ’n groot aanslag top Idlib en aangrensende gebiede. – Reuters
Meer oor:  Vn  |  Sirië  |  Rebelle  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.