Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Man gered toe hy amper voor trein beland

Die flink optrede van ’n Amerikaanse vervoerwerker het Sondag die lewe van ’n man gered wat die perron misgetrap en op die spoorlyn geval het nét toe ’n trein aankom.

Video-opnames wys hoe John O’Connor, ’n opsiener, op die stasie in Oakland, Kalifornië, vorentoe tree, afbuk en die man aan sy skouers van die spoor af tot op die platform trek terwyl die trein verby hulle swiep.

Op Twitter was die tonge los oor O’Connor se heldedaad.

Tony Badilla het ’n video van die twee mans kort ná die dramatiese redding getwiet, waarin duidelik gesien kan word hoe geskok die pendelaar is.

Bay Area Rapid Transit (Bart), O’Connor se werkgewer, het in ’n verklaring gesê die voorval het Sondag omstreeks 17:20 gebeur toe O’Connor mense op die platform op die Coliseum-stasie ná ’n Oakland Raiders-wedstryd beheer het.

“O’Connor was op die platform om te verseker dat pendelaars wegbly van die geel veiligheidstreep toe ’n man wat onder die invloed was, per ongeluk skeeftrap en op die spoor beland terwyl ’n trein nader kom.”

Bart sê O’Connor het die man gesien, hom aan sy skouers gegryp en na veiligheid getrek.

“Daar was regtig nie tyd om ’n besluit te neem nie,” het O’Connor gesê.

“Ek het nog gekyk en toe gebeur dit. Dit is regtig ongemaklik om ’n held genoem te word. Dit is wat ons veronderstel is om te doen. Ons is almal mense en die lewe is kosbaar.”

Ná die dramatiese redding het O’Connor pendelaars gehelp om veilig op treine te klim.

Volgens Bart het O’Connor later die jong man se selfoon op die spoor gekry.

Die reddingspoging het internasionaal opslae gemaak.

O’Connor, wat reeds 24 jaar vir Bart werk, het gesê hy het die jong man uit die hoek van sy oog sien stap en vinnig opgetree om hom te red.

“Dit het baie stadiger gelyk as wat dit eintlik gebeur het,” het O’Connor oor die video gesê.

Hy het benadruk dit was sy werk om die persoon te red, en ander Bart-werknemers sou dieselfde in sy posisie gedoen het.

Bart het O’Connor se reddingsdaad op Twitter besing.

Meer oor:  Kalifornië  |  Oakland  |  Wêreld  |  Trein  |  Vervoerwerker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.