Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Vreugdevure brand in Thailand
Leerlinge vier die redding van die jong Thaise sokkerspan wat Dinsdag uit ’n grot gered is voor die Tsjiang Rai Pratsjanukroh-hospitaal, waar die seuns ná die redding geneem is. Foto: Reuters/Athit Perawongmetha

Die mense van Thailand het Woensdag met verligting, dankbaarheid en vreugde gereageer op die suksesvolle redding van die laaste van die 12 seuns en hul afrigter wat in ’n oorstroomde grot vasgekeer is.

Dit het ’n einde gebring aan dié ontbering wat Thailand en die wêreld vir 17 dae in ’n greep van spanning gehad het.

Mense staan langs die pad en kyk hoe die laaste ambulans Dinsdag verbyry. Foto: Reuters

Die laaste lede van die groep van 13 van die Wildevarke-sokkerspan is Dinsdagaand uit die Tham Loeang-grotte gebring en na ’n hospitaal sowat 70 km van daar af geneem.

Hulle het aangesluit by hul spanmaats wat in kwarantyn gehou word en sal in die hospitaal bly.

Die span was sedert 23 Junie in die grotkompleks in die noorde van Thailand vasgekeer toe hulle dit ná ’n sokkeroefening gaan verken het.

#Hooyah, wat verwys na ’n kreet van die Thaise vlootlede wat aan die redding deelgeneem het, was ook ’n gewilde hutswoord onder Thais wat hul steun aan die honderde reddingswerkers aanlyn getuig, insluitend duikers van oor die wêreld heen.

Narongsak Osottanakorn, hoof van die reddingspoging, het mense in Thailand en wêreldwyd Dinsdag by ’n mediakonferensie bedank.

“Die operasie is suksesvol omdat ons krag gehad het, die krag van liefde. Almal het liefde aan die 13 spanlede gestuur.”

Hy het bevestig dat die drie vlootlede en ’n dokter wat saam met die seuns in die grot agtergebly het, ook veilig teruggekeer het.

Die seuns se ouers sal hulle Woensdag kan besoek.

“Hulle het huis toe gegaan om te stort en dan sal hulle in die hospitaal, agter ’n glaspaneel, kan besoek aflê.”

Joernaliste wat oor die drama berig het deel hul vreugde. Foto: Reuters

Die ouers kan glo nog nie hul kinders aanraak of vashou nie uit vrees dat die seuns infeksies kan opdoen.

Intussen het die drama in Thailand ook weerklink in Rusland, waar die Sokkerwêreldbeker sy einde bereik. Spelers van Frankryk en Engeland het die nuus oor die redding verwelkom en hul beste wense aan die jong sokkerspan op Twitter geplaas.

Die sokkerbeheerliggaam Fifa het ook die redding verwelkom, maar aangedui dat die span te swak is om Sondag se eindstryd in Moskou by te woon, berig Sport24.

’n Soektog op Google met die sleutelwoorde “Thai cave rescue” het Dinsdag 359 miljoen uitslae opgelewer, met die belangstelling wat sedert verlede week ’n hoogtepunt bereik het toe Britse duikers die seuns gevind het.

Araya Hargate, een van Thailand se topaktrises, het ’n tekening van die seuns wat deur reddingswerkers omring word Dinsdag op haar Instagram-blad gedeel, wat 7,9 miljoen volgelinge het.

“Op die ou end . . . is die wêreld tog nie so ’n slegte plek nie,” skryf sy. – Reuters

Meer oor:  Thailand  |  Grotredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.