Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Weermag help om Amasone-brand te takel

Brasilië soek diplomatieke witvoetjie by die wêreld ná oorweldigende kritiek oor sy rol in die ontbossing van en brande in die reënwoude van die Amasone.

In ’n omsendbrief van 12 bladsye wat aan die land se diplomatieke missies wêreldwyd gestuur is, probeer pres. Jair Bolsonaro se administrasie met data en statistiek die land se standpunt oor die brande in die Amasone verdedig.

Die leiers van Brittanje, Frankryk en Duitsland het vroeër hul kommer oor die brande in die Amasone uitgespreek.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk se kantoor het Bolsonaro selfs daarvan beskuldig dat hy in Junie by die G20-beraad gejok het toe daar kommer oor klimaatsverandering uitgespreek is.

Brande in die Brasiliaanse Amasone het vanjaar met meer as 83% toegeneem en groot dele van die skans teen klimaatsverandering vernietig.

“Dit brand elke jaar in die Amasone, maar die skaal van vanjaar se brande het die wêreld geskok. Die sogenaamde longe van die wêreld is aan die brand,” het Daniel Schweimler van die nuusdiens Al-Jazeera, uit Rondonia in Brasilië gesê, een van die gebiede wat die ergste deur vanjaar se brande geraak word.Volgens diplomate wat Reuters gekontak het, het druk die afgelope paar dae op Brasilië toegeneem namate beeldmateriaal van die brandende reënwoude wêreldwyd gesien is.

Rookwolke hang oor die reënwoude in Porto Velho, Brasilië. Dié foto is Vrydagaand geneem. Brasilië het 44 000 weermagtroepe gestuur om te help om die vernietigende brande in die Amasone te probeer blus.Foto: AP

Nadat lede van die publiek hul kommer oor dié brande by ambassades gelug het, het Brasilië die omsendbrief uitgestuur.

Die omsendbrief het ten doel om kritiek teen Brasilië se omgewingsrekord af te weer, maar ignoreer sommige van Bolsonaro se mees omstrede beleide.

Daar word byvoorbeeld gemeld dat ontbossing in die middel 1990’s ’n piek bereik en tussen 2015 en 2018 met 72% verminder het. Die omsendbrief verswyg egter dat ontbossing sedert 2012 weer stelselmatig gestyg het.

Voorlopige data dui daarop dat ontbossing vanjaar tot in Julie met 67% toegeneem het. Die voorkoms van brande het vanjaar met 83% toegeneem.

Die Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro, loop wêreldwyd onder kritiek deur vir die brande in die Amasone. Foto: AP
Inheemse boorlinge in Colombia het Vrydag voor die Brasiliaanse ambassade in Bogota, Colombia, ’n beroep op pres. Jair Bolsonaro van Brasilië gedoen om op te tree in verband met die brande in die Amasone. Foto: AP
Dié foto is op 20 Augustus geneem, en wys die rookwolke weens brande in die Guaranta do Norte-munisipaliteit in Brasilië. Daar is ’n drastiese toename in brande vanjaar in die Brasiliaanse reënwoude. Foto: AP
Vee is naby ’n enkele boom te sien op ’n stuk ontbosde grond naby Porto Velho in Brasilië. Foto: AP

In die omsendbrief word ook nie melding gemaak van Bolsonaro se uitsprake dat te veel grond in Brasilië beskerm word nie en dat meer van dié grond vir mynbou en landbou beskikbaar gestel moet word.

Daar word verder gemeld dat meer as 60% van Brasilië se gebied in die Amasone deur natuurlike plantegroei bedek word en dat landbou-aktiwiteite tot 30% van die gebied beperk word.

Dit meld ook dat Brasilië die onwettige bedrywighede van grondgrypers, bosbouers en mynwerkers beperk in ’n poging om ontbossing en die onwettige oorname van inheemse stamme se grond te probeer verminder.

Bolsonaro het Donderdag vir die eerste keer erken dat boere moontlik vir sommige van die brande in die reënwoude verantwoordelik kan wees.

Hy het ook sy verbintenis om die Amasone te beskerm Vrydag in ’n toespraak herhaal.

Meer as 40 000 lede van die weermag veg tans teen die vernietigende brande. - Bronne: Reuters, Al-Jazeera, CBS, verwerk.

Meer oor:  Jair Bolsonaro  |  Brasilië  |  Amasone  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.