Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Weermag se plan vir verkiesings in Soedan verwerp

Die opposisie in die Soedan het Dinsdag ’n plan van die militêre heersers van die hand gewys om binne nege maande verkiesings in die land te hou.

Dit volg op ’n dag van die ergste geweld sedert oudpres. Omar al-Basjir se regering omvergewerp is.

Betogers in Soedan word gewaar tussen die rookwolke van brandende motorbande wat gebruik is om 'n versperring te skep. Hierdie betogers neem standpunt in teen die weermag se planne vir die komende verkiesing. Foto: REUTERS
Die weermag het die regering omvergewerp nadat daar maande lank ’n burgerlike opstand teen Al-Basjir in die strate was, berig Reuters.

Minstens 60 mense is sedert Maandag dood en honderde gewond toe die weermag ’n permanente proteskamp buite die militêre hoofkantoor in die hoofstad, Khartoem, bestorm het, het dokters volgens CNN gesê.

Die opposisiepartye en die betogers dring op ’n burgerlike regering aan.

Madani Abbas Madani, leier van die Deklarasie van Vryheid en Veranderingsmagte (DFCF), sê daar sal voortgegaan word met die burgerlike ongehoorsaamheid totdat die militêre raad instem tot ’n burgerlike regeringsraad wat tot die verkiesing sal regeer, berig Reuters.

Die DFCF sê die weermag was kop in een mus met Al-Basjir voordat hulle die regering oorgeneem het.

Madani sê die doodmaak, wond en vernedering van die betogers is ’n stelselmatige plan om die Soedannese te onderdruk.

Die atmosfeer in die stad was Dinsdag gespanne en die betogers het talle strate versper. Winkels was gesluit en die strate was byna leeg. Die veiligheidsmagte het die versperrings probeer opruim, het ’n ooggetuie aan Reuters gesê.

Al Jazeera berig dat die Verenigde Nasies (VN) op versoek van Brittanje en Duitsland vergader het om ’n verslag oor die situasie aan te hoor. Hulle kon egter nie op ’n verklaring ooreenkom nie.
Lede van die gehate Vinnige Ondersteuningsmag (RSF), ’n paramilitêre eenheid, het Dinsdag in die strate van Omdurman, aan die ander kant van Khartoem langs die Nyl, rondgery en skote in die lug afgevuur.

Lt.genl. Sjams El Din Kabbasji, woordvoerder van die militêre regeringsraad, het dit ontken en gesê die veiligheidsmagte het betogers agtervolg wat ’n chaos veroorsaak het.

Die opstand teen Al-Basjir het in Desember verlede jaar met ’n betoging teen die prys van brood en ’n tekort aan kontant uitgebreek.

Lt.genl. Abdel Fatta al-Boerhan, leier van die militêre regeringsraad, het gesê ’n erkende regering kan net deur ’n verkiesing tot stand gebring word. Hy het die geweld betreur en gesê die militêre regering sal regeer totdat die verkiesings plaasgevind het.

Die Soedan was sedert 1993 op Amerika se lys van lande wat terroriste bystaan en sanksies is teen die land ingestel. Daar was ’n proses aan die gang om die land van die lys te verwyder toe die weermag Al-Basjir onttroon het, berig Reuters.

Al Jazeera berig dat die Verenigde Nasies (VN) op versoek van Brittanje en Duitsland vergader het om ’n verslag oor die situasie aan te hoor. Hulle kon egter nie op ’n verklaring ooreenkom nie.

Agt Europese lande het wel ná die vergadering in ’n gesamentlike verklaring die gewelddadige aanvalle in die Soedan deur die militêre heersers op die burgerlikes veroordeel.

Meer oor:  Pres. Omar Al-Basjir  |  Soedan  |  Verkiesings  |  Wêreld  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.