Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
KYK: Wêreldleiers in Normandië vir herdenking van D-dag

Twee Britse oorlogsveterane het Woensdag valskerm gespring oor Normandië in die noorde van Frankryk, sowat 75 jaar nadat hulle as jong soldate agter die Duitse weermag gespring het in ’n militêre operasie wat die gety van die Tweede Wêreldoorlog teen Adolf Hitler laat draai het.

Reuters berig Harry Read (95) en John Hutton (94), albei geklee in rooi oorpakke, het teen die pienk skemerlig met die Britse vlag in die hand uit die vliegtuig gespring.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk saam met Theresa May, Britse premier, by ’n nuwe Britse gedenkteken in Normandië, Frankryk. Foto: Phillipe Wojazer/Reuters

Albei die veterane het veilig geland en opgekyk in die lug wat teen dié tyd met kakiekleurige valskerms gevul was.

Read was net 20 jaar oud en Hutton was nog ’n tiener toe hulle uit die vragvliegtuig gespring het in die vroeë oggendure van 6 Junie 1944, beter bekend as D-Dag.

“Dit was ’n ander wêreld destyds. Dit was ’n wêreld wat vereis het dat jong mans soos ek bereid was om dood te gaan vir ’n samelewing wat die moeite werd was om in te leef,” sê Read. Dit is vanjaar die 75ste herdenking van D-dag en die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

Koningin Elizabeth van Engeland groet Angela Merkel, Duitse bondskanselier, op die herdenking van D-Dag in Portsmouth, Brittanje. Foto: Jack Hill, Reuters
Pres. Donald Trump van Amerika saam met sy vrou, Melania, op ’n lughawe in Ierland op pad na Frankryk vir die D-dag-herdenkings. Foto: Carlos Barria, Reuters

Netwerk24 het vroeër berig dat twee vlieëniers van Suid-Afrikaanse oorsprong ook oor die volgende paar dae in Frankryk aan die herdenkings gaan deelneem. Meer as 60 vliegtuie met hul outentiek geskiedkundige kleure van 1939 tot 1945 gaan van oral uit Europa byeenkom om die Slag van Normandië te herdenk.

Gerhard Ekermans en Alan Vogel is twee van die vlieëniers wat in Piper L-4-vliegtuie, oftewel die Grashopper, gaan vlieg.

Ekermans sê hy is baie opgewonde oor sy deelname. Hy het selfs ’n Suid-Afrikaanse vlag op sy vlieguniform gestik.

“Ons verteenwoordig sommer Suid-Afrikaanse vlieëniers wat destyds aan die oorlog deelgeneem het,” sê hy.

“Ek is ’n geoktrooieerde rekenmeester in Engeland wat ook daar leer vlieg het. Dit was ’n eer om genooi te word, juis omdat ek ’n voorliefde vir ou vliegtuie het.”

Intussen sal verskeie wêreldleiers, insluitende pres. Donald Trump van Amerika en pres. Emmanuel Macron van Frankryk, Donderdag verskeie seremonies bywoon om D-dag te herdenk.

’n Man staan in die Amerikaanse begraafplaas Colleville-sur-Mer in Normandië, Frankryk, voor ’n herdenkingseremonie. Foto: Christian Hartmann/Reuters
’n Man neem ’n foto in die Amerikaanse begraafplaas Colleville-sur-Mer in Normandië, Frankryk. Foto: Christian Hartmann/Reuters

The Guardian berig dat die leiers, in ’n tyd van groeiende internasionale verdeeldheid, vir ’n tweede dag wil ontmoet om te wys dat Transatlantiese vrede nog in plek is.

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is al getoets deur Trump se onstuimige verhouding met Europa omdat daar gereeld onmin tussen dié twee kante is oor kwessies soos Iran en Rusland, asook wêreldhandel en klimaatsverandering.

Macron sal Donderdag eers saam met Theresa May, Britse premier, die oprigting van ’n Britse gedenkteken by Ver-sur-Mer inhuldig. Ver-sur-Mer is een van die strande waar die inval in Normandië plaasgevind het.

Macron en Trump sal daarna private samesprekings hou, gevolg deur ’n middagete ná ’n seremonie by die Amerikaanse militêre begraafplaas by Colleville-sur-Mer.

Dié begraafplaas het sowat 9 400 grafte wat 40% van die Amerikaanse soldate verteenwoordig wat dood is in die weke van gevegte wat op D-Dag gevolg het.

Meer oor:  Herdenking  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.