Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Laaste uitgawe van Hongkongse koerant ná 26 j.

Die Hongkongse pro-demokratiese koerant Apple Daily het Donderdag sy laaste uitgawe verkoop en ondersteuners het die oggend die strate ingevaar om dit op te raap.

Die koerant het sy deure ná 26 jaar gesluit nadat die Chinese regering hom ál meer geteiken het en sy stigter, Jimmy Lai, verlede jaar in hegtenis geneem is.

’n Straatverkoper met die Hongkongse pro-demokratiese koerant Apple Daily, wat Donderdag sy laaste uitgawe verkoop het. Foto: AP Photo/Vincent Yu

Inwoners van Hongkong het kort ná middernag begin toustaan om die laaste uitgawe te koop.

Apple Daily het aangedui dat 1 miljoen eksemplare gedruk is. Dit is tien keer meer as normaalweg.

Lai, bekend as ’n stoere kritikus van die Chinese regering, is ingevolge die land se omstrede nasionale veiligheidswetgewing in hegtenis geneem.

Jimmy Lai toe hy verlede jaar in hegtenis geneem is. Foto: AP Photo/Vincent Yu

Hy staan ingevolge dié wet tereg op drie aanklagte en word daarvan beskuldig dat hy met ’n ander land saamgesweer het. Hy is sedert Desember in aanhouding.

Volgens kritici word die wet gebruik om enige teenstand in dié voormalige Britse kolonie dood te smoor. Die koerant se sluiting word as nog ’n terugslag vir mediavryheid beskou.

Honderde polisielede het die koerant se kantore verlede week in ’n klopjag deursoek en vyf bestuurslede in hegtenis geneem. Twee is aangekla.

Daarbenewens is ’n 55-jarige rubriekskrywer ook ingevolge die veiligheidswet in hegtenis geneem.

Die bates van die maatskappy wat die koerant besit, is ook bevries.

Polisielede het verlede week in busvragte by die kantore van die koerant Apple Daily opgedaag om ’n klopjag uit te voer. Foto: Apple Daily/Reuters

Die poniekoerant het pro-demokratiese menings, skindernuus oor bekendes en ondersoeke gepubliseer.

Die koerant se uitgewer is Next Digital en het honderde joernaliste in diens. Die maatskappy sê sy besluit om die koerant te sluit is geneem om die werknemers te beskerm.

Daar was ook grootskaalse bedankings sedert die klopjag en sommige afdelings moes reeds gesluit word.

Apple Daily in Taiwan sal egter voortgaan om aanlyn gepubliseer te word aangesien sy geldsake onafhanklik van die koerant in Hongkong is.

Die koerant het al sy lesers, intekenare, kliënte en die inwoners van Hongkong vir hul steun van die afgelope 26 jaar bedank.

Ondersteuners skyn Woensdag hul slimfone se liggies voor die koerant se kantore in Hongkong, waar aan die laaste uitgawe gewerk is. Foto: Anthony Kwan/Getty Images

Op die laaste voorblad van die koerant is ’n foto van ’n personeellid wat wuif met die opskrif: “Hongkongers neem pynlik afskeid in die reën.”

Lai, wat op 12-jarige ouderdom op ’n vissersboot van China na Hongkong gesmokkel is, het die koerant in 1995 gestig.

Ná die koerant se sluiting bly daar nog net ’n handjievol publikasies oor wat pro-demokraties is. – Saamgestel deur Malherbe Nienaber

Meer oor:  Koerant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.