Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Leë plekke wys sege nie ’n gegewe vir Trump

Die talle leë sitplekke met sy eerste verkiesingsaamtrek sedert die Covid-19-pandemie Amerika getref het, is iets wat pres. Donald Trump seker liefs sal wil vergeet.

Die saamtrek Saterdag in Tulsa in Oklahoma, ’n “veilige” staat vir Trump, het baie minder ondersteuners getrek as wat hy en sy raadgewers belowe het.

Die geleentheid is ook oorskadu deur voortgesette kritiek op sy reaksie op die Covid-19-pandemie, die landwye betogings teen polisie-wreedheid en die ontslag van die top- federale aanklaer in New York net ure voordat Trump se vliegtuig in Tulsa geland het.

Trump en Brad Parscale, sy veldtogbestuurder, het vroeër nog gespog dat ’n miljoen mense aanlyn aansoek gedoen het om kaartjies vir die saamtrek, en Trump het belowe dat daar nie ’n leë sitplek in die stadion sal wees nie.

Hy sou ook buite die stadion gaan praat het met ondersteuners wat nie plek in die stadion kon kry nie, maar dit was toe nie nodig en en die plan is gekanselleer.

Die meeste sitplekke in die boonste rye was leeg.

Die veldtogorganiseerders het beweer dat Trump-ondersteuners deur Black Lives Matter-betogers buite verbied is om deur die veiligheidsbeheerpunte te kom.

CNN-verslaggewers buite die stadion het egter gesê dat die betogings in die algemeen vreedsaam verloop het.

Ook die polisie in Tulsa het op Twitter gesê dat die betogers “oorwegend” vreedsaam opgetree het.

Die swak opkoms is een van die moontlike aanduidings dat Trump se herverkiesing ver van seker is en dat sy veldtog die gevaar loop om te ontspoor.

Trump het in nasionale meningspeilings en ook in die peilings in sogenaamde sleutel- “slagveldstate” agtergeraak teenoor oud-vise-president Joe Biden, sy Demokratiese teenstander.

Biden se veldtog het in Mei vir die eerste keer meer geld as Trump s’n ingesamel, terwyl Trump twee keer soveel geld uitgegee het.

Trump het Saterdag ondanks die uitslae van die meningsopeilings verklaar dat hy herkies sal word. “Ek staan vandag voor julle en verklaar dat die stille meerderheid sterker is as ooit tevore,” het hy gesê. “Ons is die party van Abraham Lincoln, en ons is die party van orde en reg.”

Trump het Saterdag niks gesê oor die grootte van die skare by sy saamtrek nie.

Pres, Donald Trump van die VSA hou Saterdag in Tulsa, Oklahoma, ’n toespraak in ’n half leë stadion. Foto: AP

Hy het Biden voorgehou as ’n marionet van die Demokrate se ver-linkse vleuel.

“Dink enigiemand eerlikwaar dat hy daardie radikale maniakke (kan) beheer?”

In die ure voor sy aankoms het Trump verdere omstredenheid geskep met die optrede teen Geoffrey S. Berman, die federale hoofaanklaer in New York wat talle van Trump se assosiate ondersoek weens beweerde misdrywe.

Berman het Saterdag bedank ná ’n konfrontasie met William Barr, Trump se minister van justisie (wat in die VSA bekendstaan as die prokureur-generaal).

Barr het gesê Trump het Berman afgedank. Trump het egter voor sy vertrek van die Wit Huis aan joernaliste gesê Barr, en nie hy nie, was verantwoordelik vir Berman se ontslag.

Trump sukkel om geesdrif vir sy veldtog aan te wakker te midde van die verwoestende uitwerking van Covid-19 landwyd en die golf van protes sedert die dood van George Floyd verlede maand in Minneapolis nadat ’n wit polisieman op sy nek gekniel het.

Daarby het ’n boek deur John Bolton, Trump se voormalige veiligheidsadviseur, waarvan uittreksels aan die lig gekom het, bygedra tot Trump se verdriet. Hy kon nie daarin slaag om die publikasie van die boek in die hof te stuit nie.

In die boek beweer Bolton onder meer dat Trump reguit vir pres. Xi Jinping van China gevra het om hom te help om herverkies te word.

Dit tel ook nie in Trump se guns dat ses van sy veldtogpersoneel positief getoets is vir Covid-19 nie, veral in die lig daarvan dat Trump ondanks die pandemie daarop aangedring het om Saterdag se saamtrek te hou en niemand in die skare verplig is om gesigsmaskers te dra nie. Maskers is wel by die deur aan hulle uitgedeel.

In ’n stadium het hy gesê hy het sy mense opdrag gegee om minder toetse vir die siekte te doen, “want hoe meer jy toets, hoe meer gevalle is daar”.

Die Wit Huis het later gesê hy het net geskerts.

Trump het ’n paar ras-omstrede uitsprake gemaak, soos om na Covid-19 te verwys as die “Kung Fu”-virus.

Hy het ook gesê dat ’n Demokratiese kongreslid, Ilhan Omar van Minnesota wat ’n Somaliese vlugteling was, “probeer om ons regering te maak soos die regering van die land waar sy vandaan kom”.

Hy het ook gewaarsku dat om toe te gee aan die eise van betogers teen polisie-wreedheid deur wetstoepassingsagentskappe te skrap, “sal die vrou van ’n reisende verkoopsman baie kwesbaar laat vir ’n baie tawwe hombre” (met verwysing na ’n man van Spaans-Amerikaanse afkoms). Bloomberg

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.